SWART-VRYDAG-AANBOD! Betaal slegs R9,99 vir die eerste twee maande as jy nou ’n intekenaar word. Spring gou!
Algemeen
Grote griet! Dit gons oor supermodel

Die voorblad van die jongste uitgawe van die Britse tydskrif Cosmopolitan, met die oorgewig model Tess Holliday daarop, het ’n hewige internasionale debat ontketen, maar plaaslike gesondheidskenners en aktiviste vra: wat is die groot probleem?

Tess Holliday op die Britse Cosmopolitan se voorblad.Foto: UK Cosmopolitan

“Phew, ek is letterlik ’n Cosmo-meisie!! Kan nie glo ek sê dit nie! Dankie @cosmopolitanuk & @farrahstorr vir dié ongelooflike geleentheid. As ek ’n lyf soos myne op dié tydskrif gesien het toe ek ’n jong meisie was, sou dit my lewe verander het & hoop dit doen dit vir sommige van julle,” het Holliday op sosiale media gesê.

Holliday, wat 136 kg weeg, dra ’n smaraggroen uitrusting en blaas ’n soentjie op die voorblad van Cosmo, wat op Twitter daarvan beskuldig is dat hulle vetsug verheerlik.

“Hoe sal jy voel as ’n swaar roker met emfiseem en nikotiengevlekte tande op die voorblad van Cosmo was? Is dit ’n billike vergelyking? Bespreek,” het ’n Twitter-gebruiker, Emmy Jewel, getwiet.

’n Ander gebruiker, Jared Monroe, sê: “Verstommend hoe goed hulle die dialisemasjien uitgedokter het. Tess Holliday se Cosmo-voorblad word geloof as ’n reuse-stap vorentoe vir liggaamspositiwiteit.”

Baie mense het egter gevoel die voorblad was ’n noodsaaklike teenvoeter vir die obsessie met modeldun lywe.

Dr. Bianca van der Westhuizen van die Hart-en-beroertestigting meen die stigma aan vetsug speel ’n groot rol, nie net in Suid-Afrika nie, maar in die res van die wêreld.

“Gewigstigma verwys na sosiale verwerping en waardevermindering wat toegeskryf word aan dié wat nie gehoor gee aan die heersende sosiale norme van die regte gewig en vorm nie, volgens ’n nuwe studie wat in die Britse Mediese Joernaal gepubliseer is. ’n Voorblad soos dié sal na ons mening nie vetsug bevorder nie. Vroue wat sukkel met hul gewig, moenie skaam laat voel word nie – of hulle nou onder- of oorgewig is,” het Van der Westhuizen aan City Press, Rapport se susterskoerant, gesê.

Maar vetsug is steeds ’n geldige rede tot kommer. Volgens die stigting is sowat die helfte van die Suid-Afrikaanse bevolking oorgewig of vetsugtig. Twee uit drie vroue en een uit drie mans word beskou as oorgewig of vetsugtig.

Bianca Tromp, ’n dieetkundige by die stigting, verduidelik dat om oorgewig of vetsugtig te wees, veral om ’n groot middellyf te hê, ’n mens se risiko vir kardiovaskulêre siektes en diabetes verhoog.

“Maar normale gewig of selfs ondergewig beteken nie noodwendig dat jy gesonde eetgewoontes het nie en jy kan dus ook ’n verhoogde risiko hê om kardiovaskulêre siektes te ontwikkel. Dis belangrik om kennis te neem dat om oorgewig te wees, nie die enigste bepaler van ongesondheid is nie. Faktore soos ’n onaktiewe leefstyl, rook en buitengewone stres dra alles by tot ’n ongesonde leefstyl,” sê Tromp.

Lisa Raleigh, welstand- en fiksheidskenner, stem saam. “Volgens my ervaring beteken maer wees nie gesond nie en oorgewig nie ongesond nie. Maer wees beteken ook nie mooi en oorgewig die teenoorgestelde nie. Ons is almal só verskillend in ons smaak en vorm. Ten minste daag dié voorblad norme uit, dit open gesprekke en erken verskeidenheid. Ek is seker dit was die doel.

“Ek dink teen dié tyd weet ons almal dat aantreklikheid en seksuele aantrekking in alle vorms en groottes leef. Baie van ons histories sexy vroue, dink aan JLo, Nigella en Marilyn Monroe, het nie in een gietvorm gepas nie.”

“Streng gesproke sal ek liewer 10 kg oorgewig wees met ’n positiewe interne dialoog, ’n gesonde verhouding met kos en ’n rits gesonde gewoontes, as om as ‘perfek’ beskou te word van buite en ’n slaaf te wees van selfvertwyfeling, ’n lae selfbeeld en om nie daardie belangrike gesondheid­syfers van cholesterol en bloeddruk te hê nie.”

Holliday het ook nie ná al die kritiek gaan lê nie. Sy het in ’n onderhoud met die Britse TV-program This Morning gesê: “Ek doen dit vir vroue oral ter wêreld wat iemand wat soos ek lyk, moet sien om minder alleen te voel en te verstaan dat hoe hulle lyk, pragtig is. Die meeste van my volgelinge het nie ’n voller figuur nie, dis baie divers en aan die einde van die dag het ons almal kwessies met ons lyf. En ek dink ’n bietjie respek en vriendelikheid kan ons ver bring.”

Meer oor:  Cosmopolitan  |  Oorgewig
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.