Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Gru-ongeluk eis jong ma en makelaar, tiener erg beseer
Charles van der Walt (52) van Polokwane is Vrydagmiddag in 'n ongeluk dood. Foto: Verskaf

’n Jong ma en ’n bekende makelaar van Polokwane het Vrydagmiddag in ’n grusame motorongeluk gesterf en ’n matriekmeisie is ernstig beseer.

Kayla Smith (18), 'n matriekleerling van Hoërskool Pietersburg in Polokwane, is ernstig beseer. Foto: Verskaf

Die ernstig beseerde Kayla Smith (18), ’n leerling van die Hoërskool Pietersburg (PHS), is tans in die waakeenheid van die Netcare Pholoso-hospitaal. Sy is onder sterk verdowing. Die omvang van haar beserings is nog nie bekend nie.

Sy was saam met haar halfsuster, Zaskia da Silva (29), en Charles van der Walt (52), ’n makelaar van C.J. Makelaars, op pad terug van Haenertsburg na Polokwane toe die ongeluk op die R71 gebeur het. Dit is nie duidelik wat hulle daar gedoen het nie.

Van der Walt was Da Silva se finansiële makelaar en hulle was goeie vriende.

Wanda Badenhorst, Da Silva se ma, sê volgens ooggetuies het Van der Walt vermoedelik beheer oor sy silwerkleurige Ford Mustang met ’n afslaandak verloor. Die motor het in ’n graswal langs die pad vasgery, etlike kere gerol en ’n boom getref.

Geen ander voertuie was betrokke nie.

Ross Campbell, woordvoerder van ER24, sê hulle het kort ná 16:00 daar aangekom.

Zaskia da Silva (29) van Polokwane is Vrydagmiddag in 'n motorongeluk dood. Foto: Facebook/Zaskia da Silva
José het Zaskia kom haal. Presies tien maande en nege dae sedert hy weg is.

Van der Walt is uit die motor geslinger en is op die toneel dood. Nooddienswerkers moes Da Silva en Kayla uit die brandende wrak red. Da Silva is ook op die toneel dood verklaar.

Haar ma sê haar hart is flenters. “My kind, my lewe, my asem.”

Da Silva se man, José, is verlede jaar dood.

“José het Zaskia kom haal. Presies tien maande en nege dae sedert hy weg is.”

Die egpaar se jongste seun, Liam José, is in November verlede jaar gebore.

Hul oudste seuntjie, Divan (3), weet iets is verkeerd. “Hy sê sy mamma is by Liewe Jesus en by sy pappa,” het Badenhorst gesê.

Vriende het Van der Walt as ’n wonderlike mens met ’n goeie hart beskryf. Hy word oorleef deur sy vrou, Jacolien, en twee volwasse kinders.

Elmarie Craig, woordvoerder van PHS, sê die skool se harte en gebede gaan uit na Kayla wat in die hospitaal is.

Geen reëlings vir roudienste is bekend nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.