Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
‘Gryse dame’ na Randse Lughawe
Die Lockheed L-1649A Starliner, met registrasienommer ZS-DVJ, in 2005. Foto: Julian Whitelaw
Wat kom daar aan? Die romp van die geskiedkundige Lockheed L-1649A Starliner-vliegtuig op pad na sy laaste rusplek by die Randse Lughawe. Foto’s: John Austin-Williams

’n Meer as 60 jaar oue Lockheed L-1649A Star-liner-vliegtuig met ’n baie ryk geskiedenis het by haar laaste rusplek in Germiston aangekom om vir die publiek uitgestal te word.

Die belangstelling en opwinding was groot toe ’n vragmotor met die romp van dié vliegtuig, geregistreer as ZS-DVJ, op Vrydag 13 Oktober deur die hekke van die Suid-Afrikaanse Lugvaartmuseum by die Randse Lughawe in Germiston ingery het.

Dit was ’n groot hoogtepunt ná jare van beplanning en harde werk om ’n finale tuiste te kry vir dié “gryse dame” van die Suid-Afrikaanse lugvaartgeskiedenis, soos wat die Suid-Afrikaanse Lugdiensmuseumvereniging (SAAMS) dié vliegtuig beskryf.

Die romp van die Starliner is van die staatsbeheerde wapen- firma Denel in Boksburg via die O.R. Tambo-lughawe na die Randse Lughawe vervoer.

Die besluit om die vliegtuig te skuif dateer van 2011 en die Starliner is sedertdien stuk-stuk uitmekaar gehaal om vervoer te word.

Irene Leys, lid van die Suid-Afrikaanse Lugdiensmuseumvereniging (SAAMS), met haar selfoon byderhand toe die vliegtuig aangekom het.

Die SAAMS het op hul webwerf geskryf dat hul “goeie vriende” by die Deutsche Lufthansa Berlin-Stiftung (DLBS) hulle van baie goeie raad en inligting voorsien het vir die voorbereiding vir die verskuiwing, soos onder meer tegniese inligting en gereedskap om die vliegtuig uitmekaar te haal.

Die wiele is op 27 September aan die rol gesit om met die verskuiwingstog te begin, maar moes ter elfder ure op die lange baan geskuif word toe die departement van vervoer nie betyds ’n vervoerpermit uitgereik het nie.

Ná ’n oponthoud of twee het die verskuiwing oplaas op Vrydag 13 Oktober ’n minuut ná middernag begin.

Daar is in die beplanning beklemtoon dat dit nie net ’n geval van oppak en skuif is nie.

Die romp van die vliegtuig word opgehys om vervoer te word. Dié foto is op 6 Oktober geneem.

Die verskuiwing het glad verloop en ure later het die vliegtuigromp by die Randse Lughawe aangekom.

Johann Pelzer van die lugvaartmuseum sê daar kan nou in alle erns begin word met die restourasie van die vliegtuig.

“Die vlerke en ander items wat afgehaal is vir die vervoer van die romp sal dan volgende wees om aanmekaar te sit.

“Die plan is om die vliegtuig ten volle te restoureer en dan oop te stel vir die publiek. Die vliegtuig sal net nie kan vlieg nie.”

Die lewe van die ZS-DVJ:

17 Januarie 1958: Die Duitse lugdiens Lufthansa het dié Star- liner oorspronklik gekoop en dit op dié dag in ontvangs geneem. Die vliegtuig se registrasienommer was toe D-ALOL en is vir trans-Atlantiese vlugte gebruik.

Oktober 1962 tot Februarie 1964: Volgens Austin-Williams het Lufthansa die vliegtuig in dié tydperk aan World Airways van Amerika geleen. Sy registrasienommer was toe N45520.

20 Februarie 1964: Die vliegtuig is daarna aan die destydse Trek Lugdiens van Suid-Afrika verkoop en is op 24 April 1964 as ZS-DVJ geregistreer. Die Trek Lugdiens was van Augustus 1953 tot April 1994 in bedryf.

Mei tot September 1965: Die ZS-DVJ is toe deur die Suid-Afrikaanse Lugdiens geleen vir gereelde vlugte tussen Johannesburg en Perth in Australië.

1966: Die ZS-DVJ het in dié jaar vir twee eerstes in Suid-Afrika gesorg. Eerstens het dit met sy landing in Rio de Janeiro, Brasilië, op 15 Februarie die eerste direkte kommersiële vlug oor die Atlantiese Oseaan deur ’n Suid-Afrikaanse lugdiens agter die blad gehad.

Op 5 Julie dié jaar het die ZS-DVJ in Tokio geland op die eerste vlug van ’n Suid-Afrikaanse lugdiens na die Verre-Ooste.

Mei 1967 tot Junie 1968: Die Luxemburgse lugdiens Luxair het die ZS-DVJ gehuur en dit geregistreer as LX-LGX. Sy het in Junie 1968 na die Trek Lugdiens teruggekeer.

Volgens Austin-Williams is baie Starliners aan kleiner lugdienste verkoop en met die koms van meer moderne toerusting, was hierdie vliegtuie se lot om as skrootmateriaal op te eindig of het ’n stadige dood gesterf deur buite sig iewers op ’n vliegveld geparkeer te word.

Toe die Trek Lugdiens die era van stralers betree het, het die Starliners oorbodig geword en is verkoop.

Die ZS-DVJ het in April 1969 by Trek afgetree.

“ ’n Sustertuig van die ZS-DVJ, die ZS-FAB, is destyds vir R5 000 aan ’n skroothandelaar in Germiston verkoop. Toe die skroothandelaar besef hy kan nie geld maak deur die ZS-FAB te herverkoop nie, is die vliegtuig uitmekaar gehaal.”

Die ZS-DVJ was gelukkiger. Op 27 Julie 1971 het W.J. Pelser, eienaar van die Klein Kariba- vakansieoord buite Warmbad (vandag Bela-Bela), die vliegtuig gekoop. Haar laaste vlug was ’n paar maande later op 9 Oktober toe sy na die oord gevlieg het.

“Die Starliner was gelukkig nie bestem om tot haar einde by ’n vakansieoord deur te bring waar sy van verskeie onderdele beroof is nie.”

Die ZS-DVJ is in Mei 1979 aan die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) geskenk. Ingenieurs het die vliegtuig uitmekaar gehaal, per vragmotor na die destydse Jan Smuts-lughawe (O.R. Tambo) vervoer en weer met baie moeite aanmekaar gesit.

Restourasiewerk daaraan het in Februarie 1984 begin en was betyds voltooi vir die SAL se opedag op 30 April 1988.

Sy is tot haar vorige elegansie herstel in die kleure van die Trek Lugdiens.

Die vliegtuig is in 2004 weer geverf en in 2011 het die planne begin om die vliegtuig na die Randse Lughawe te neem om deel van die Suid-Afrikaanse Lugvaartmuseum se vloot van uitstalvliegtuie te word.

Meer oor:  Germiston  |  Vliegtuig
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.