Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Guptasaak in knyp; Cyril sal dalk help

Die staat se strafregtelike ondersoeke na die Guptas is in so ’n desperate toestand dat aanklaers pres. Cyril Ramaphosa wil vra vir gunste.

Mcebisi Jonas, voormalige adjunkminister van finansies, getuig. Foto: Deaan Vivier

City Press berig die nasionale vervolgingsgesag (NVG) wil Ramaphosa vra om sy eweknieë in Dubai en Indië te nader vir hulp met hul ondersoek na die Gupta-familie.

Die NVG brand glo vas met die twee staatskapingsake wat tans voor die hof dien.

Die Estina-saak behels die suiwelprojek by Vrede in die Vrystaat wat R250 miljoen van die Vrystaatse departement van landbou gemelk het.

Die ander saak is die korrupsiesaak van Duduzane Zuma vir sy beweerde aandeel in die Guptas se aanbod van R600 miljoen se omkoopgeld aan Mcebisi Jonas, voormalige adjunkminister van finansies.

Aanklaers blameer glo adv. Shaun Abrahams, voormalige hoof van openbare vervolging, omdat hy hulle gedruk het om die sake by die hof in te dien voordat hulle gereed was.

Dit kan jare duur voordat die beweerde rolspelers in die staatskapingsage – die Gupta-broers, Brian Molefe, voormalige hoof van Transnet en Eskom, Anoj Singh, Eskom se finansiële hoof, en Salim Essa, ’n medewerker van die Guptas – voor ’n hof gedaag sal word.

Die Kommissie van Ondersoek na Staatskaping (SKK) onder voorsitterskap van adjunkhoofregter Raymond Zondo het die afgelope week met sittings begin.

So, ons is in volle beheer en die ou man (oudpres. Jacob Zuma) sal alles doen wat ons vir hom sê

Jonas het Vrydag getuig dat ’n Gupta-broer vir hom gesê het hulle “beheer alles”, insluitende die NVG, die Valke en nasionale intelligensie.

“So, ons is in volle beheer en die ou man (oudpres. Jacob Zuma) sal alles doen wat ons vir hom sê om te doen,” het hy volgens Jonas gesê.

Intussen sukkel die NVG om hond haaraf te maak in Bloemfontein waar die Vrede-beskuldigdes teregstaan. Die staat het Dinsdag ná ’n gesukkel uitstel gekry om die ondersoek te voltooi, maar met baie streng tydraamwerke en voorwaardes wat die landdros gestel het.

Justice Bakamela, aanklaer, wou ’n veel langer uitstel gehad het vir verdere ondersoek en sodat aanklaers die Dubaise en Indiese owerhede kan vra om met die ondersoeke te help. Die aanklaers verlang inligting oor die Guptas en hul medewerkers se bankstate en finansiële transaksies. Hulle wil ook hê dat die polisie in Dubai en Indië namens hulle verklarings afneem by getuies.

Die versoek aan Dubai is egter nog nie eens in Arabies vertaal nie, verneem City Press.

As die versoeke misluk, wil die NVG pres. Ramaphosa versoek om toe te tree om die owerhede in Dubai en Indië se samewerking te vra.

“Die saak is ’n gemors. Daar was nie behoorlike samewerking tussen aanklaers en die Valke nie – en al wat hulle doen is om mekaar te blameer. Al die forensiese werk is uitgekontrakteer aan private firmas,” sê iemand ná aan die ondersoek. Dit is glo omdat die Valke nie oor die kundigheid beskik om die forensiese werk self te doen nie.

Donderdag is die staat nóg ’n gevoelige slag in die Vrede-saak toegedien, berig Netwerk24.

Van die beskuldigdes het aansoek gedoen om die bewaringsbevele oor hul bates op te hef, net soos die hof vroeër die Guptas se bates terugbesorg het.

Die staat het nie eens die aansoeke teengestaan nie en net een bewaringsbevel is nog van krag.

Die hof het in die vorige skermutselinge oor die bewaringsbevele skerp kritiek gehad oor die staat se saak en het onder meer bevind die aanklaers is deurmekaar oor bankrekeninge.

Volgens die hof kon die staat nie bewys na watter rekeninge by die Bank of Baroda (BoB) geld gevloei het nie.

Die staat kon net aantoon dat geld inbetaal is in die groot poelrekening van BoB wat by Nedbank gehou is.

Vandaar kan net dokumente van BoB onteenseglik wys wie die geld gekry het, en die staat het dit nie van die Indiese bank nie.

Die Jonas-saak is ook in die moeilikheid omdat Jonas nie sonder twyfel kan sê watter Gupta-broer dit was wat vir hom die omkoopgeld aangebied het nie, volgens City Press.

Jonas het Vrydag voor die SKK getuig dié Gupta het gedreig dat hy doodgemaak sal word as hy hul gesprek verklap.

Aan die een kant sou dit makliker gewees het vir die aanklaers as hulle eers die vervolging kon instel nadat die getuienis voor die SKK afgehandel is. Die SKK het meer hulpbronne om die sake te ondersoek, en die SKK-getuies sou dan ook in die strafsake kon getuig.

Maar aan die ander kant sal dit beteken dat die strafsake eers oor meer as twee jaar – wanneer die SKK afgehandel is – aangehoor sal kan word.

Daar is wel besluit dat die batebeslagleggingseenheid sal voortgaan met beslagleggings van enige bates wat uit die SKK-getuienis blyk moontlik die opbrengste van misdaad was.

Meer oor:  Duduzane Zuma  |  Mcebisi Jonas  |  Guptas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.