Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Gysie se René was ‘Springbok uit eie reg’
Die laaste foto wat van die Pienaar-gesin geneem is. Van links is Gysie, René, Ruan en Rida op die Bram Fischer-lughawe in Bloemfontein. Foto: Facebook/ Janine Jackson

“Sy was nou nie ’n Springbok-sportvrou nie, maar sy was ’n Springbok-kind. Almal was mal oor haar. Sy was eintlik ’n Springbok in haar eie gebied.”

Só beskryf die oud-Bok en Bloemfonteiner Gysie Pienaar sy dogter, René O’Ehley (38), wat Vrydag in 'n motorongeluk in die Wes-Kaap oorlede is.

René se man van 12 jaar, Edmund O’Ehley (41), het vroeër gesê sy was op pad terug na Bredasdorp van Stellenbosch toe die ongeluk op die N2 tussen Botrivier en Caledon gebeur het.

Haar Volkswagen Polo en ’n vragmotor het reg van voor gebots. ’n Ander vragmotor en ’n bakkie was ook in die ongeluk betrokke.

René het vier dae voor haar dood ’n foto op haar Facebookblad van die Springbokspan van 1980 gedeel. Dit is in dié span waarin haar pa vir die eerste keer as Springbok op die veld uitgedraf het.

Pienaar sê sy het ’n heldeverering vir hom gehad. “Ons is ’n baie gehegte familie, maar ek en sy was baie geheg aan mekaar. Ek en Ruan ook.”

Haar broer, Ruan (34), ook ’n voormalige Springbok wat nou vir Montpellier in Frankryk uitdraf, is “baie hartseer”, sê Pienaar.

Ruan sal Dinsdag of Woensdag in Suid-Afrika aankom om by sy familie te wees. René se roudiens sal Donderdag of Vrydag in die NG kerk op Bredasdorp wees, sê Pienaar.

René en Edmund O’Ehley Foto: René O'Ehley

Die Pienaar-egpaar is tans op Bredasdorp, waar René saam met haar gesin gewoon het. Sy en O’Ehley het twee kinders, Kayla (10) en Edmund jr. (8). O’Ehley en die kinders sal aanbly op die dorp.

“Sy het altyd ’n glimlag gehad, sy was altyd lewenslustig. Ek gaan haar baie mis,” sê Pienaar.

Pienaar het ’n dag voor René se dood met haar oor die telefoon gesels.

Hy sê hy het sy dogter minstens drie keer per week gebel om te hoor hoe dit met die gesin gaan – “net om met mekaar te praat”.

Sy en haar ma, Rida, het egter drie tot vier keer per dag telefonies gesels.

Rida sê hulle het ’n ongelooflike band gehad. “Sy het my vir enigiets gebel.

“Sy het in ’n winkel geloop en sou vir my sê: Ma, ek koop nou so lekker met die oë, ek wens Ma was hier.”

Die Pienaar-egpaar en die O’Ehley-gesin het mekaar sowat ses keer per jaar gesien en het aan die einde van elke jaar saam vakansie gehou, sê Pienaar.

Hulle was in Desember saam op Hartenbos.

Die O’Ehley-gesin. René en Edmund O'Ehley saam met hul kinders, Kayla (10) en Edmund jr. (8).

Rida sal altyd onthou hoe sy en René in die oggende op vakansie of besoeke die een koffie ná die ander afgesluk het. Dit terwyl hulle in hul nagklere “tot watter tyd” sit voordat hulle besluit het om see of swembad toe te gaan.

“Gisteroggend het ek opgestaan en koffie gedrink . . . ek sal seker nooit weer koffie drink sonder om aan haar te dink nie,” sê ’n emosionele Rida.

René was ’n fantastiese mens, ma en vriendin, en ’n raakvatter, sê Rida. Sy het deurgaans “hordes vriendinne” gehad.

Dié ma vertel René het as kind saam met Ruan en sy maats rugby en krieket gespeel en hom altyd met sy huiswerk gehelp.

René was ’n leerling aan die Laerskool Fichardtpark en die Hoërskool Sand du Plessis in Bloemfontein. Sy het aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) studeer. Sy het tot verlede jaar by die Laerskool Bredasdorp skoolgehou.

O’Ehley sê sy familie en vriende ondersteun hom baie in dié tyd. Hy kan nie anders as om dit dag vir dag te vat nie – “ek moet daar wees vir my kinders”.

“Al lê dit alles soos ’n berg voor my, glo ek ek sal hierdeur kom en my geloof sal my hierdeur dra.”

Meer oor:  Gysie Pienaar  |  René O’Ehley  |  Motorongeluk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.