Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Haal nou elektriese bus in Kaapstad
Daylin Mitchell, Wes-Kaapse LUR vir vervoer en openbare werke, op een van die elektriese busse wat nou passasiers in Kaapstad sal vervoer. Foto: Verskaf

Die Golden Arrow-busdiens het Maandag die eerste twee volledig elektriese busse in Kaapstad bekend gestel, wat voortaan pendelaars tussen Retreat en Kaapstad sal vervoer.

Nadat die busse 12 maande lank getoets is, is bevind dat dit aan al die standaarde voldoen.

Die busse sal van vandeesmaand af by Golden Arrow se daaglikse diens ingespan word.

“Nadat ek met hierdie bus gery het, is ek vol vertroue dat passasiers veilig op hul rit sal voel,” sê Daylin Mitchell, Wes-Kaapse LUR vir vervoer en openbare werke, in ’n verklaring.

Gideon Neethling, ingenieur van Golden Arrow, sê die toetsing was baie noukeurig.

“Die eerste paar maande het ons die busse onder verskillende omstandighede sonder passasiers getoets. Die doel was om presies te bepaal hoe hierdie voertuie vaar voordat ons dit in bedryf gestel het.

“Die toetsing van die voertuie was ’n vreugde vir almal wat deel van die projek is. Elke keer wanneer ons ’n nuwe toets afgehandel of mylpaal bereik het, het die opgewondenheid net verder toegeneem,” sê Neethling.

Golden Arrow het met die busvervaardiger BYD en die e-mobiliteitsprogram uYilo (wat gehelp het met finansiering) saamgewerk om die twee elektriese busse te toets.

Neethling sê baie moet nog oor die nuwe busse geleer word, soos die elektrisiteitsverbruik onder verskillende omstandighede, die laaityd tussen ritte, moontlike rooster-uitdagings weens die laaitye, onderhoudsbehoeftes, die werking van die batterye en ander algemene bedryfsuitdagings.

Mitchell sê die Wes-Kaapse departement van vervoer en openbare werke en die Golden Arrow-busdiens werk saam aan verskillende tegnologiese oplossings om openbare vervoer in die provinsie te verbeter.

“My departement onderskryf vernuwingsprogramme soos hierdie in die lig van die uitdagings wat ons pendelaars in die afwesigheid van passasierstreine ondervind.”

Golden Arrow het tans ’n kontrak vir passasiersbusdienste wat deur Mitchell se departement bestuur word.

Die maatskappy bedryf meer as 1 000 busse wat daagliks ongeveer 250 000 passasiers vervoer, en sê 96% van sy busse kom betyds by hul bestemmings aan.

Die busdiens, met sy kenmerkende groen-en-oranje kleure, het vanjaar sy 160ste bestaansjaar gevier.

Golden Arrow het in 2017 ’n hernubare-energieprojek met die oprigting van twee sonkragaanlegte van 25 kWp (piek kilowatt) elk van stapel gestuur

Dit het daartoe gelei dat twee van die maatskappy se geriewe in 2020 koolstofneutraal verklaar is.

Meer oor:  Golden Arrow  |  Kaapstad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.