Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Hallo, 3 kaartjies vir kameelperde, asb.
Grant van Wyk ontken Pouria Navazani se bewerings van kontrakbreuk ten sterkste. Foto: Elizabeth Sejake

Drie Suid-Afrikaanse kameelperde wat nooit in Iran uitgekom het nie is die onderwerp van ’n interkontinentale bekgeveg tussen ’n Iranse diplomaat se seun en ’n Pretoriase wildvanger.

Pouria Navazani (29), wie se pa, Abbas, Iran se ambassadeur in Zimbabwe is, beweer die kameelperde wat hy by Grant van Wyk vir sy dieretuin bestel het, is al drie in die wildvanger se sorg dood. Boonop beskuldig hy Van Wyk van kontrakbreuk omdat dié glo moes gesorg het dat die diere lewend by die dieretuin uitkom.

Van Wyk sê net een van die diere is dood en hy het dit vervang. Hy moes al drie verkoop om sy koste te dek omdat Navazani nie vervoer kon reël nie.

Navazani besit ’n onderneming wat vleis, beeste, skape en wilde diere na Iran invoer. Hy sê die drie kameelperde was vir sy “Chmran-dieretuin” bestem.

Rapport kon geen aanlyn voetspoor vir dié dieretuin vind nie, maar Navazani sê: “My dieretuin is in die Alborz-provinsie geleë. Ek het al baie diere, onder meer ’n swart luiperd en wit leeuwelpies uit Suid-Afrika ingevoer en nog nooit probleme ervaar nie.”

Hy beweer hy het Van Wyk in 2018 ’n deposito van R118 000 betaal vir drie kameelperde. “Op die laaste dag van kwarantyn moes ek die balans betaal. Die volle koopsom was R174 600. Hy was ook verantwoordelik vir die vlugte en versekering.”

Die dooie kameelperd word met ’n hyskraan verwyder.

In November 2018 het Van Wyk vir hom gesê hy kry nie ’n vlug na Iran nie, beweer Navazani. “Die enigste lugredery wat dié roete vlieg, is Qatar, en hulle gebruik net ’n klein passasiersvliegtuig. ’n Mens het ’n groot vragvliegtuig vir kameelperde nodig.”

“Ek kon ’n vragvliegtuig vir $150 000 huur. Dis baie meer as wat ek vir al drie betaal het.”

Hy sê die kameelperde was veronderstel om teen 12 November daardie jaar in Iran te land.

“Kort voor dit het Grant my laat weet een van die kameelperde het gevrek en twee weke daarna was die ander twee ook dood,” sê Navazani.

Hy het ’n kontrak aan Rapport gewys waarvolgens Van Wyk verantwoordelik is vir die diere gedurende hul kwarantyn, maar ook tot 14 dae nadat hulle in Iran aangekom het.

Pouria Navazani met ’n swart luiperd wat hy sê hy van Suid-Afrika af ingevoer het. Foto: Facebook

Luidens die kontrak is Van Wyk verantwoordelik vir “alle dokumente, 30 dae kwarantyn, die vervoerkratte, die vervoer na die O.R. Tambo-lughawe en die tariewe vir die laai van die diere” en verder: “Sodra alle in- en uitvoer­dokumente uitgereik is, moet die kameelperde in Iran afgelewer word.”

Dis nie duidelik uit die kontrak wie spesifiek vir die bespreek en betaal van die vlug verantwoordelik is nie.

Van Wyk (37) vertel ’n heeltemal ander storie as Navazani. “Een van die kameelperde het gevrek. Dit was van stres. Dis wilde diere, hulle kan nie vir ’n onbepaalde tyd in ’n kwarantynkraal bly nie. Ek het die dooie kameelperd vervang én ná dit vir Navazani ’n video gestuur van die diere in die boma.”

Rapport het dié video gesien.

Van Wyk bevestig hy het die kontrak onderteken, maar oor die vlug na Iran sê hy: “Dit was nooit my verpligting nie. Hulle moes sorg dat die vlug gereël word. Toe Navazani dit nie regkry nie, het ek gesê ek sal hom probeer help. Hulp beteken nie jy aanvaar verantwoordelikheid nie.” Volgens hom het Navazani aanvanklik gesê hy sal ’n plan maak.

“Een van sy planne, toe hy besef daar is nie vlugte nie, was dat ek al my werkers vat en met die diere Turkye toe vlieg. Dan moet ons ’n kwarantynkraal bou en die kameelperde daar laat kwarantyn. Van daar wou hy hê die diere moes vir 20 uur vervoer word tot in Iran. As jy nou regtig wil hê al drie wilde kameelperde moet almal van skok vrek, probeer jy só ’n 20 uur-trip.”

Hy sê Navazani is geen dieretuin­eienaar nie. “Hy koop en verkoop diere en klaar! Die adres vir aflewering op die faktuur en op die kontrak is nie ’n dieretuin s’n nie, dis ’n gewone huisadres.” Hy is bereid om mediasie met Navazani te ondergaan, maar bestry die geldigheid van die kontrak.

“Niks van die bepalings werk as ons nie die diere op ’n vliegtuig kan laai nie. Die begin van die probleem is Navazani wat nie die diere kon laat vlieg nie.”

Meer oor:  Grant Van Wyk  |  Pouria Navazani  |  Iran  |  Kameelperde  |  Chmran-Dieretuin  |  Wildvanger
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.