Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Hannah: Gesin kan nog nie oor haar praat nie
Anna en Willem Cornelius (in die middel) stap verlede Vrydag na hul dogter se roudiens wat in Vishoek gehou is.Foto: Jaco Marais

Oor die telefoon kan ’n mens hoor die trane lê vlak in Hannah Cornelius se pa, Willem, se stem.

Hy is tien dae ná die moord op sy dogter by die huis in Scarborough. Hy sien nog nie kans om weer te probeer om die stukke te begin optel nadat sy enigste dogter so onverwags weggeruk is nie.

“Ons sukkel as gesin om hierdeur te werk,” sê Cornelius.

Hy is hoorbaar emosioneel toe hy die telefoon beantwoord. Hy begin praat, dan droog sy woorde op. ’n Mens kom agter hy sukkel om oor sy dogter te praat.

“Ons kan selfs nog nie as gesin daaroor praat nie,” sê Cornelius.

Sy woorde droog op. Daar is stilte en dan maak hy sy keel skoon en probeer weer praat.

“Ek kan nie eens daaroor met myself praat nie,” probeer Cornelius weer iets sê.

Dan bly hy stil.

Ek kan nie eens daaroor met myself praat nie.
Willem Cornelius

Later in die gesprek sê hy dankie dat die media hom en sy familie in hierdie ondraaglike tyd respekteer, juis omdat hulle ’n baie private gesin is.

Cornelius sê hy is nie gereed om lang onderhoude met die media te voer nie. Hy voel dit gaan hom “niks help” om sy dogter se dood te verwerk nie en ook “niemand anders help nie”.

Hannah se ouers se stilswye volg nadat hulle as ouers alleen Donderdag na hul dogter se verassing gegaan het. By ’n roudiens Vrydag in Vishoek by die NG kerk het hulle ook niks gesê nie.

Cornelius het Dinsdag gesê hulle is ’n taamlik private gesin en hulle probeer nog om die skok te verwerk.

Hulle beplan om vir ’n rukkie uit die land te gaan.

Cornelius sal minstens tot begin Julie nie by die werk wees nie – hy is ’n landdros in Simonstad.

Hannah Cornelius

Hannah en ’n studentevriend, Cheslin Marsh, is op 27 Mei tussen 03:00 en 06:00 in Birdstraat, Stellenbosch, deur vier mans aangeval waar hulle in haar blou VW Citi Golf gesit en gesels het.

Die aanvallers het Marsh, ’n teologiestudent in sy eerste jaar aan die Universiteit Stellenbosch, in ’n veld in Kraaifontein met bakstene teen die kop gegooi.

Hy kon ondanks sy beserings inligting aan die polisie verskaf wat tot die inhegtenisneming van die vier verdagtes gelei het.

Cornelius se lyk is Saterdag omstreeks 08:30 langs die R44 naby die Knorhoek-pad langs ’n kragkas gevind waar sy vermoedelik doodgebloei het. Sy is vermoedelik voor haar dood om die beurt deur die verdagtes verkrag.

Vier mans is in verband met Cornelius se moord aangekeer.

Eben van Niekerk, Vernon Witbooi (32), Geraldo Parsons (26) en Nashwill Julies (28) staan tereg op aanklagte van moord, poging tot moord, motordiefstal, roof met verswarende omstandighede, ontvoering en verkragting.

Meer oor:  Willem Cornelius  |  Scarborough  |  Stellenbosch  |  Hannah Cornelius  |  Moord  |  Matie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.