Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Hannatjie Kruger Saterdag in Upington begrawe
Hannatjie Kruger (80) Foto: Facebook

“Ons het baie, baie seer, maar dit is ’n vertroosting dat God haar opgeneem het,” sê Erika Kruger oor haar skoonma, Hannatjie Kruger (80), wat Maandag in Upington vermoor is.

Erika sê ouma Hannatjie was ’n bederf-ouma.

“Elke vakansie voor die skool begin het, het sy al haar kleinkinders vir ete uitgevat. Sy’t ons almal net altyd bederf en moed ingepraat as ons dit nodig gehad het.”

Kruger was ’n verpleegster wat alles vir haar medemens gedoen het, sê haar skoondogter.

“Dit was haar hart. Om vir ander om te gee, was waarvan haar wese verweef was,” sê ’n hartseer Erika.

“Sy was ’n vrou wat God baie lief gehad het en baie saam met my gebid het as dit gevoel het asof die lewe iewers uitmekaargeval het. ’n Biddende ouma en ma. Ons gaan haar so oneindig baie mis.”

Kruger is Maandag vermoedelik tussen 12:00 en 13:00 in haar huis in die Middelpos-woonbuurt in Upington aangeval en vermoor.

Haar dogter, Marika Nel, het na haar ma gaan soek en op haar lyk afgekom nadat sy nie by die skool opgedaag het om een van haar kleinkinders te gaan haal nie.

Die polisie in Upington het dadelik ’n grootskaalse soektog na die aanvaller(s) begin, maar tot op hede is niemand nog in hegtenis geneem nie.

Kruger is die tweede ouma in vier maande wat wreed en helder oordag in die dorp vermoor is.

Hannatjie Kruger (80) van Upington se begrafniskennisgewing. Foto: Verskaf

Judy Redelinghuys (71), ’n sakevrou, is op 30 Junie in haar huis aangeval en verwurg. Sy is daarna met haar hande agter haar rug vasgebind in haar swembad gegooi.

Ook haar dogter, Leanne Arnon, het die middag omstreeks 13:00 op haar lyk afgekom nadat sy na haar ma gaan soek het toe sy nie oproepe beantwoord het nie.

Nkosinathi Ntombela (34) is op 4 November in verband met Redelinghuys se moord in hegtenis geneem.

Sy aansoek om borgtog Donderdag in die hof in Upington is geweier en hy sal tot sy volgende verskyning op 5 Maart in aanhouding bly.

Die moorde op die twee vroue het die rustige rivierdorp in die hartjie van die Kalahari geruk.

Vroue wat in die Middelpos-woonbuurt woon, sê hulle lewe in vrees omdat die vlaag misdade soos inbrake ’n algemene en kommerwekkende verskynsel geword het.

Etlike ure ná die moord op Kruger is ook by die huis van haar buurvrou, Ansie Duvenhage (56), ook ’n ouma wat na haar kleindogters omsien, ingebreek.

Duvenhage se selfoon is langs haar gesteel terwyl sy geslaap het.

Kruger word deur haar man, Hendrik, haar dogter, Marika Nel, haar twee seuns, Stephan en George Kruger, kleinkinders en agterkleinkinders oorleef.

Sy word Saterdag om 10:00 uit die NG kerk Upington-Oos-gemeente begrawe.

Meer oor:  Hannatjie Kruger  |  Upington  |  Vermoor  |  Ouma  |  Begrawe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.