Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
‘Hansie wag vir Ewie in’

“My pa was baie rustig toe hy Maandag na Jesus is. My ma het so mooi met hom gepraat en gesê dis nou tyd dat hy gaan. Sy het hom herinner dat Hansie al klaar vir hom wag.”

Ewie Cronjé en sy vrou, San-Marie, in hul slaapkamer met ’n portret van hul seun Hansie teen die muur. Foto: René Cronjé

Só sê Ewie Cronjé (80) se seun Frans oor sy pa se dood Maandagmidddag.

Cronjé se as sal net soos dié van sy seun Hansie in die gedenkmuur by Grey-kollege in Bloemfontein geplaas word. Hansie, oud-Proteakrieketkaptein, is in 2002 in ’n vliegongeluk dood.

Die Cronjé-familie sê hulle sal nie nou ’n begrafnis of roudiens hou nie, maar later die as in die gedenkmuur plaas.

San-Marie, Cronjé se weduwee, sê Ewie was haar beste vriend, lewensmaat, “ensiklopedie” en uiteindelik ook haar pasiënt.

Hy het die afgelope elf maande baie swaargekry.

Hy het ’n besonders goeie geheue gehad.

“Ek hoef nie name, gesigte of telefoonnommers te onthou het nie, want met hom aan my sy het ons geweet wie ons groet, met wie hulle getroud is, waar hulle gewoon het of waar hul grootgeword en geskool is. Selfs hul motors se nommerplate. Ek is nou verlore. . .”

In en om die huis sal sy regkom.

“Ewie Cronjé het ronde hande gehad, hy kon net balle vang,” skerts sy.

Frans sê sy pa was sy held.

Die Cronjé’s in 1980 in Stellenbosch. Van links is Frans, Ewie en San-Marie. Foto: Grey-kollege se argief

“Sy beste eienskap was sonder twyfel hoe goed hy was met verhoudings. Hy het altyd doelbewus tyd gemaak vir mense en het agteroor gebuig om hulle te help.”

Benewens sy gesin was daar vier dinge waarvoor hy gelewe het: sport, Grey-kollege, die Vrystaat en Kovsies.

Frans sê die manier waarop die krieketadministrateurs Hansie hanteer het, het sy pa bitter seergemaak.

“Maar ek kan met blydskap getuig dat alle hartseer weg was voor sy dood.

“Die laaste belangrik gebeurtenis was ’n paar weke voor sy dood toe dr. Ali Bacher hom gebel en persoonlik om vergifnis gevra het.

“My pa het dit soveel waardeer.”

Niemand kan ’n mens ooit voorberei vir die verlies van ’n pa nie, veral nie een soos hare nie, sê Hester Parsons, Cronjé se dogter.

“Ek besef weer eens hoe bevoorreg ek is om hom my pa te kon noem.

“Al die stories wat soveel mense nou vertel van hom, hul spesiale herinneringe aan hom, dit is kosbaar vir ons.

Ewie Cronjé (links) met Hansie voor hom op die Sportburo van die Universiteit van die Vrystaat se sportfamiliefoto van Junie 1982. Foto: Universiteit van die Vrystaat se argief
Ewie Cronjé as sportorganiseerder van die Universiteit van die Vrystaat in 1969. Foto: Universiteit van die Vrystaat se argief

“Een ding sal ek vir altyd saamdra in my hart, en dit is Pappa se glimlag toe hy my gesien het voor sy dood.”

Sy liefde vir sy vrou, kinders en kleinkinders was onbeskryflik, sê sy.

As jy hom geken het, sal jy weet ’n mens hoef nie regtig iets oor hom te sê om te verduidelik hoe wonderlik hy was nie, sê die oud-Proteakrieketspeler Gerhardus Liebenberg.

Hy was werklik merkwaardig.

Liebenberg onthou Cronjé as ’n pa-figuur toe hy as eerstejaarstudent by die Universiteit van die Vrystaat (UV) aangekom het.

“Hy was vir ons almal ’n pa-figuur, iemand wat net ’n slag met studente gehad het en dissipline kon handhaaf sonder dat jy eers besef het dis wat besig is om te gebeur.”

Ewie Cronjé oefen krieket by Grey-kollege in 1966. Foto: Grey-kollege se argief

Liebenberg sê hy groet ’n groot held met ’n swaar hart.

DB Prinsloo, direkteur van KovsieSport aan die UV, sê Cronjé was ’n alomgeliefde man.

Cronjé, die eerste sportorganiseerder by die UV, het in 2004 ná 35 jaar van “uitstekende en toegewyde diens” aan die UV afgetree.

“Hoewel hy die direkteur was, het jy hom menigmaal op die krieketveld op kampus gekry met sy poublou Mazda naby die kolfblad geparkeer waar hy die kolfblaaie persoonlik natgelei het,” sê Prinsloo.

“Kovsies en die Suid-Afrikaanse sportwêreld het ’n groot gees verloor.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.