Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Hare waai oor watersituasie in Makhanda

Die voortslepende waterkrisis in Makhanda (Grahamstad) is ’n kruitvat wat wag om te ontplof sedert die Gift of the Givers se humanitêre hulp op dié dorp opgedroog het.

Die organisasie het Donderdag aangekondig dat hy sy hulpmiddele aan die dorp onttrek nadat hy in 13 weke meer as R15 miljoen bestee het om die munisipaliteit en sy inwoners uit hul waternood te red. Hy kan nie so aanhou help sonder finansiële steun van die regering nie.

Kanne en emmers word by ’n watertenkwa in Makhanda volgemaak. Foto: Lulama Zenzile

Dit beteken duisende inwoners van dié dorp gaan weer blootgestel word aan beurtwater en afhanklik wees van die munisipaliteit se watertenkwaens om water te verskaf.

Toe die organisasie die eerste keer op Makhanda aangekom het, was baie van die 80 000 inwoners al bykans twee weke sonder lopende water.

Dr. Imtiaz Sooliman, bestuurder van Gift of the Givers, sê afgevaardigdes van die departement van water en sanitasie het op Vryheidsdag vir hulle gesê om hul vragmotors te skuif omdat daar geen waterkrisis op die dorp is nie.

Dít terwyl pres. Cyril Ramaphosa in sy toespraak op dieselfde dag gesê het daar is geen vryheid, terwyl daar geen water is in Makhanda nie.

Die departement sê R22 miljoen is aan die munisipaliteit betaal vir projekte rondom droogtehulp.

Sooliman sê ondanks talle beloftes en waarborge van die munisipaliteit dat hulle vergoed sal word sodra hy sy geld by die departement kry, het hulle nog geen enkele sent gekry nie.

Sputnik Ratau, nasionale woordvoerder van die departement, sê op sy beurt hoe die R22 miljoen bestee word, is die verantwoordelikheid van die munisipaliteit. Sy departement sal nie voorskryf oor hoe die geld bestee moet word en watter diensverskaffers hulle gebruik nie.

Enige ooreenkoms tussen die munisipaliteit en Gift of the Givers is ’n kwessie wat dié twee partye spoedig sal moet hanteer.

Anele Mjekula, ’n munisipale woordvoerder, sê die munisipaliteit het nooit enige waarborge oor betaling of finansiering aan die organisasie gegee nie én dat hulle geweet het hulle pak die werk op “eie risiko” aan.

Sooliman sê die munisipaliteit het Gift of the Givers op 9 Februarie om hulp genader en gesê die waterprobleem sal binne vyf dae opgelos wees. Hulle het dus op 12 Februarie daar aangekom om te help.

Sooliman sê hulle het meer as 50 uur se vergaderings met afgevaardigdes van die departement belê.

“Die dorp sit met ’n krisis. Daar is nou al 13 weke verby (ons is by elke geleentheid ingeroep om onluste oor water te beredder), maar die regering hou steeds vergaderings, trek sakeplanne op, vul vorms in, en Vader weet wat nog.

Tydlyn en gebeure

Gift of the Givers het op 12 Februarie in Makhanda aangekom.

Miljoene liters water is oor ’n tydperk van 13 weke by verskillende verspreidingspunte soos skole, klinieke en ouetehuise uitgedeel.

’n Span kundiges, bestaande uit ’n boorspan en dr. Gideon Groenewald, ’n hidroloog, het op 19 Februarie die gebied besoek en ’n boorgat wat 70 000 liter water per dag lewer, is naby die Waainek-watersuiweringsaanleg gesink.

Nog twee boorgate is gesink. Hulle lewer onderskeidelik 40 000 en 100 000 liter water per dag.

Die organisasie het nog ’n boormasjien ter waarde van R4 miljoen na die gebied gestuur en ’n boorgat is by die Ntsika Secondary School gesink. Dié boorgat lewer 1,2 miljoen liter water per dag.

20 Watertenks van 5 000 liter elk is deur Gift of the Givers aangekoop, terwyl Engen 150 tenks wat 10 000 liter water hou, geskenk het.

Isuzu het twee watertenks geskenk en Makro en Absa het gebottelde water aan inwoners geskenk.

Tot dusver is R5 miljoen aan miljoene liters gebottelde water bestee.

“Dit is ’n tipiese geval van Nero wat viool speel wyl Rome brand.”

Sooliman sê ook die departement het hulle ingelig dat slegs maatskappye van Makhanda vergoeding kan ontvang vir hulp met die droogte.

’n Private maatskappy gaan R1,2 miljoen kry vir werk wat verband hou met boorgate, terwyl hulle die werk gedoen het. “Nog ’n maatskappy gaan R7 miljoen kry vir boorgate wat ons gesink het, en ’n derde maatskappy R1,9 miljoen vir elektriese werk om boorgate te verbind wat ons by Waainek gesink het.

“Dit is R10 miljoen van belastingbetalers se geld wat die regering vryelik uitdeel as betaling vir werk wat Gift of the Givers reeds gedoen het.”

Mjekula sê die departement het hulle in Oktober 2018 meegedeel hulle gaan geld beskikbaar stel vir die sink van boorgate.

Hy sê die munisipaliteit het toe ’n konsultant aangestel wat ondersoek gaan doen na die ondergrondse water asook ’n opname van die boorgate wat reeds gesink is.

“Die tender om die nodig omgewingsimpakstudie te doen, is op ’n wettige wyse toegeken. Voordat die toelae uitbetaal is, het Gift of the Givers in Makhanda aangekom en boorgate begin sink, gegrond op hul eie opsomming van die situasie.”

Volgens Mjekula het die departement hulle toe ingelig dat die korrekte regulasies en prosesse gevolg moet word voordat hulle geld aan Gift of the Givers kan betaal, en hulle stem hiermee saam.

“Die munisipaliteit oorweeg dit om ingevolge die regulasies ’n diensverskaffer aan te stel om die Waainek-boorgate aan die Waainek-watersuiweringsaanleg te koppel,” lui die munisipaliteit se verklaring.

Die munisipaliteit swyg oor wie die konsultant is en wie die diensverskaffer is wat hulle wil aanstel.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.