Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Harry en Meghan voed honger magies in SA met hul versoek

Prins Harry en sy vrou, Meghan, se baba bring skenkings van honderdduisende rande na Suid-Afrika.

Die hertogin van Sussex. Foto: GETTY

Die hertog en hertogin van Sussex se baba word baie binnekort verwag, en hulle het twee weke gelede op hul amptelike Instagram-blad, @sussexroyal, gevra dat mense nie geskenke vir die bloubloedbaba gee nie, maar eerder geld skenk aan vier organisasies wat hulle gekies het.

Niemand weet nog of die baba ’n seun of ’n dogter is nie en Meghan en Harry doen weg met baie van die koninklike ooievaarstradisies. Sy sal onder meer nie vir ’n fotosessie ná die geboorte verskyn nie.

Een van die organisasies wat Meghan en Harry wil bevoordeel, is The Lunchbox Fund in Suid-Afrika.

Sue Wildish, besturende direkteur van The Lunchbox Fund, sê hulle het reeds bykans $35 000 ontvang en dié bedrag groei daagliks. Met dié geld kan hulle 140 000 warm, gesonde maaltye aan arm kinders verskaf.

“Dit beteken die donasies tot op hede sal ons in staat stel om vir 700 kinders elke skooldag vir ’n jaar lank ’n warm maaltyd te verskaf.”

Dié organisasie help tans 27 000 leerlinge in al nege provinsies.

Wildish sê hulle het op 4 April ’n e-pos van die hertogin se kantoor ontvang wat sê sy sien die werk raak wat hulle doen en stel belang om meer te weet oor die projek.

Hulle het dadelik die inligting gestuur en sommer die volgende dag al ’n e-pos terugontvang wat sê die hertog en hertogin voel “geïnspireer deur die werk wat die Lunchbox Fund doen en wil dit graag uitlig”.

Wildish sê hulle het dus geweet die koninklikes gaan vir hulle blootstelling gee, maar die versoek om donasies te gee, was ’n aangename verrassing.

Byna onmiddellik het hulle 400 donasies uit 15 lande ontvang.

Die ander liefdadigheidsorganisasies wat die koninklikes wil ondersteun, is Baby2Baby in Los Angeles, wat kwesbare kinders in skuilings versorg; Well Child, wat kinders in Brittanje met ernstige siektes in staat stel om by die huis aan te sterk; en Little Village in Londen, wat speelgoed, klere en ander benodigdhede vir babas bymekaar maak.

Meer oor:  Meghan  |  Prins Harry  |  Liefdadigheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.