Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Hartaanval eis oud-Bok Chester vinnig

Die twee minute se ry hospitaal toe was net te ver.

Maria Williams, vrou van die Bokvleuel Chester Williams, het Saterdag aan Rapport vertel hoe sy met hom hospitaal toe gejaag het nadat hy Vrydagaand ’n hartaanval by hul huis gekry het.

Chester Williams
Chester Williams

“Ons was net twee minute weg van die hospitaal af, maar ek was nie vinnig genoeg nie,” het ’n baie emosionele Maria vertel.

Williams is Vrydagaand kort ná 18:00 die aand by die Panorama-hospitaal in die Kaapse noordelike voorstede dood. Die hospitaal spog met een van die bekendste harteenhede in die Wes-Kaap.

“Sy hart was verskriklik vergroot,” het Maria gesê, kort nadat sy gister haar man se liggaam gaan uitken het.

Patricia de Lille, minister van openbare werke, staan die familie sedert sy dood by.

Sy is ook ’n raadslid van die Chester Williams-stigting.

Sy sê daar was geen vorige tekens van hartprobleme nie. Toe Chester gistermiddag van borspyn kla en Maria sê hulle moet dokter toe gaan, was sy reaksie om sy arms rond te swaai om te wys hy’s orraait, sê De Lillle.

Vyf minute later was die pyn terug, net erger. Dis toe dat hulle in die kar spring.

Vroeër die dag was die voormalige Bok-vleuel nog doenig om bokse van sy nuwe bier, Chester’s Lager, te help pak vir ’n restaurant in Durbanville. Volgens sy broer, Emile, was Williams se plan om die nuwe bier ook by die Wêreldbeker-rugbytoernooi in Japan te verkoop. Chester sou ook van die wedstryde in Japan gaan kyk.

Chester het Vrydag by ’n kroeg na die Bokke se opwarmingswedstryd teen Japan gaan kyk. Die Bokspan het met 41-17 geseëvier, met vyf van die ses drieë wat deur Bokvleuels gedruk is.

Die laaste drie is gedruk deur Chester se protégé, die skrumskakel Herschel Jantjies. Chester het Jantjies gebrei toe hy vir die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) in die Varsitybeker gespeel het.

“RIV broer, vriend, vader, mentor! Tot ons weer ontmoet,” het Jantjies uit Japan op Instagram hulde gebring.

Rassie Erasmus, die huidige Bokafrigter en ’n oud-spanmaat van Chester, het gesê die Springbokke het ’n legende van die spel verloor.

“Net hierdie week nog het ons bestuur met hom gesels oor sy planne om Wêreldbeker toe te kom en oor kaartjies vir die Wêreldbeker-wedstryde. Dit gaan ons ’n tydjie vat om oor hierdie skok te kom.”

Die All Blacks het Vrydagaand op hul Twitter-rekening hulde gebring aan Chester en hom as ’n “kwaai teenstander” op die veld beskryf, maar ’n vriend van die veld af.

Pres. Cyril Ramaphosa het Vrydagaand op sosiale media gesê: “Jou impak op en van die veld af deur eenheid onder alle Suid-Afrikaners te bou, bly jou grootste nalatenskap.”

Paul Treu, rugbyafrigter wat onder Chester gespeel het vir die Blitsbokke en hom as ’n mentor beskou, sê professionaliteit was een van Chester se grootste eienskappe.

“Hy was ’n perfeksionis in alles wat hy gedoen het.”

Chester is die vyfde lid van die Springbokspan wat die Wêreldbeker in 1995 op tuisbodem verower het wat nou dood is.

Kitch Christie (58), afrigter, is in 1998 aan leukemie dood. Ruben Kruger (39), flank, is in 2010 ná ’n stryd teen breinkanker oorlede, terwyl die skrumskakel Joost van der Westhuizen (45) in 2017 oorlede is ná ’n jarelange stryd teen motorneuronsiekte.

Williams se vleuelmaat, James Small (50), het in Julie vanjaar ook vermoedelik aan ’n hartaanval gesterf.

Ten tyde van Chester se dood was hy die afrigter van die UWK se Varsitybekerspan.

Hy word oorleef deur sy vrou, hul tweelingkinders en sy pa, Wilfred, ’n broer, Emile, en suster, Anthea. Aankondigings oor sy roudiens word môre verwag.

* Chester Mornay Williams,8 Augustus 1970 – 6 September 2019.

Meer oor:  Chester Williams  |  Maria Williams  |  Rugbyspeler  |  Springbok  |  Sterfgeval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.