Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Hartaanval eis Sampie van ‘Vir die voëls’-faam

Sampie de Klerk (59) wat die inspirasie was vir die romantiese hoofrol in Huisgenoot se trefferfliek Vir die Voëls, is Donderdag ná ’n kort siekte oorlede.

Sy vrou, Irma (Irma Humpel in die fliek), het ’n Huisgenoot-skryfkompetisie gewen, waarop die fliek gevolg het.

Sampie en Irma se liefdesverhaal het kykers aan die hart gegryp, veral sy stryd om die korrelkop Irma se hart te verower.

Die fliek vertel die ware verhaal van Irma Humpel, vertolk deur Simoné Nortmann, en haar man, Sampie de Klerk, vertolk deur Francois Jacobs, se pad vol stampe en stote tot voor die kansel.

Carien Grobler, ’n vriendin van die familie, sê Sampie het op 20 Oktober in die nag ’n hartaanval in die gesin se huis op Newcastle gehad, waarna Irma met hom na die hospitaal gehaas het.

irma
Sampie de Klerk en sy geliefde Irma. Foto: Verskaf

Hy het ’n bloedklont in sy hart gehad en moes na Pietermaritzburg oorgeplaas word, maar was nie stabiel genoeg nie.

Hy is wel in die daaropvolgende week te midde van groot risiko oorgeplaas, waarna komplikasies met verskeie van sy organe ingetree het.

Irma, wat Sampie se siekte baie privaat gehou het, het Dinsdag per WhatsApp aan vriende en familie laat weet: “Hallo julle, Sampie se hele lyf is nou gesond. Sy longe wil eenvoudig net nie inskop en sonder die ventilator asemhaal nie. Die spesialis gaan nou oor na plan B, wat beteken môreoggend doen hulle ’n trageotomie in die teater. Dit is daardie snytjie voor in die keel met ’n pypie. Hy sê dan kan hulle Sampie van die ventilator af speen en hy kan begin opstaan en rondbeweeg om sterk te word. Sodra sy longe sterk asemhaal, sal hy dan huis toe kom.”

Volgens Grobler het Sampie se hart egter omstreeks 10:00 gaan staan en kon hy kon nie weer bygebring word nie.

Irma het kort voor Sampie se dood vertel hoe hy die mediese personeel op hol gehad het toe die monitors begin piep het nadat hy haar ’n drukkie wou gee. Irma het langs sy bed gesit en haar kop ’n rukkie laat rus toe Sampie na haar oorleun.

“Ek sal nooit vergeet hoe Irma my vertel het dat Sampie elke middag vir haar ’n liefdesbriefie op die eetkamertafel gelos het nie. Soms sommer net op ’n ou koevert, maar daar het gestaan: ‘Irma, ek is lief vir jou’,” vertel Grobler.

Volgens Irma het die Here Sampie baie uniek aanmekaargesit.

“My troos is dat alles tussen ons was soos dit moes wees – daar was geen onafgehandelde sake nie, niks waaroor ons spyt was nie. Dis raar, maar dis net wie Sampie was. Hy het geweet hoe om verhoudings te bou,” het sy gesê.

Irma vertel dat mense hom drie jaar nadat die fliek uitgereik is steeds op straat voorgekeer het danksy sy warm, sterk persoonlikheid.

Hulle sou op Kersdag 36 jaar getroud gewees het. Hulle het een seun, Werner.

* Hou Netwerk24 dop vir verdere besonderhede.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.