Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Hartenbos maak reg vir vakansiegangers
Die swembad en glybane by die ATKV se Hartenbos-seefrontontwikkeling. Foto: Eugene Gunning

Wanneer duisende vakansiegangers oor minder as ’n maand by die ATKV se Hartenbos-seefrontontwikkeling opdaag, behoort die grootste deel van die tweede fase klaar te wees.

Maar wees gewaarsku: As jy die sentrum besoek, gaan jy opdok vir parkeerplek. Die tariewe sal later bekend gemaak word.

Die eerste fase van die sentrum is op 7 Desember verlede jaar amptelik geopen en sedertdien het duisende mense die sentrum besoek.

Dit het gevolg op die bou van nuwe geriewe en die opknapping van die bestaande geriewe. Die totale koste van die projek is sowat R165 miljoen en dit word in verskillende fases afgehandel.

In die eerste fase is ’n mini-avontuurgholfbaan, ’n waterwurm en ’n waterglybaan opgerig. Daar is ook ’n verhitte swembad, klimrame vir kinders en piekniekplekke.

Adrie van Dyk, sentrumbestuurder, het Dinsdag gesê die eerste fase is afgehandel. “Daar was ’n paar uitdagings en dit is oorbrug.”

Volgens Van Dyk het die sukses van die sentrum tot dusver hul verwagtinge oortref. So, byvoorbeeld, is die meerderheid winkels beset.

Die tweede fase is in die stadium 80% voltooi en alles is op koers.

In die tweede fase is nog kleinhandelgeriewe en eetplekke ingerig. Daar word nog op die goedkeuring van ’n apteek in Clicks gewag.

Nuwe konferensiegeriewe, wat sowat 200 mense kan huisves, sal van 1 Desember beskikbaar wees. Die bestaande konferensiegeriewe is opgeknap.

Die Na-Donker-sentrum, ’n kuierplek, sal gedurende die vakansietyd tydelik in die Walvissaal gehuisves word.

Die ingang van die ATKV se Hartenbos-seefrontontwikkeling. Foto: Eugene Gunning

Die nuwe Na-Donker-sentrum sal eers in Februarie gereed wees.

Die Skoffelskuur sal wel gereed wees. Dit is gerig op jong mense van 18 jaar en jonger. Hulle kan daar dans en laserpartytjies geniet.

Die bestaande Arena waar musiekuitvoerings en uitstallings gehou word, is opgeknap en sal op 1 Desember gereed wees.

Planne om ’n skaatsbaan te bou is deel van ’n volgende fase.

Van Dyk sê op die oomblik betaal besoekers nie vir parkeerplek nie. “Ongelukkig sal hulle van 1 Desember tot 7 Januarie moet betaal vir parkeerplek. Die doel is om seker te maak dat die bestaande huurders se klante wel parkeerplek het. Anders gebeur dit dat mense die heeldag daar parkeer en strand toe gaan.”

Daar sal wel uitsonderings wees vir mense wat by Pick n Pay koop, die gimnasium besoek en die motorwasgeriewe benut. Hulle sal ’n gedeelte van hul parkering gratis ontvang.

Die sentrum open om 09:00 en sluit om 19:00.

Meer besoekers word vanjaar as verlede jaar verwag. “Die sentrum is nou meer gevestig as verlede jaar,” sê Van Dyk.

Meer oor:  Vakansiegangers  |  Hartenbos  |  Vakansie  |  Parkeerplek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.