Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Hartseer ná oupa wat met sepsis uit Pelonomi ontslaan is, sterf

Wyle Johannes Homan (81) wat Saterdagoggend gesterf het nadat hy vroeër met sepsis en bedsere uit die Pelonomi-streekhospitaal ontslaan is waar hy ’n heupoperasie ondergaan het. By hom is sy dogter, Ria Homan, wat nog Saterdagoggend vir hom wou gaan bid het in die Mediclinic Bloemfontein. Foto: Verskaf

Die bejaarde Johannes Homan (81), wat vroeër met bedsere en sepsis uit die Pelonomi-streekhospitaal in Bloemfontein ontslaan is waar hy glo verwaarloos is, se dogter, Ria Homan, was Saterdagoggend vroeg op pad met die Bybel na die Mediclinic Bloemfontein.

Dit was om nog vir hom te gaan lees en bid, maar toe moes sy hoor hy is reeds dood.

Homan is Saterdagoggend om 07:10 dood nadat hy die vorige dag (Vrydag) per ambulans van Ons Tuiste by die Aandrus-aftreeoord na Mediclinic Bloemfontein geneem is in ’n poging om nog sy lewe te probeer red.

Homan was aanvanklik op 3 Maart in die Pelonomi-streekhospitaal opgeneem, maar kon eers op 16 Maart geopereer word om sy gebreekte heup te herstel, sê sy kleindogter Sunette Gordon.

“Wat vreemd was, was dat my oupa met bedsere en sepsis uit die Pelonomi-streekhospitaal ontslaan is en hulle het sommer al die dag ná die operasie vir ons gebel om hom te kom haal.“Omdat my oupa nie kon loop nie, sy een been het geen gevoel in gehad nie, is nog ’n dag gewag voor die ambulans hom op 18 Maart daar gaan haal en na Aandrus geneem het,” sê sy.

Gordon sê die personeel van Ons Tuiste by Aandrus het gesê sy wonde was vrot en hy was vol bedsere toe hy daar aangekom het.

Sy het foto’s van die wonde en bedsere na Netwerk24 gestuur.
'n Foto van oupa Johannes Homan, (81) saam met sy agterkleinkinders, wat drie maande voor die val geneem is toe hy sy heup gebreek het.Foto: Verskaf
'n Onverklaarbare voetwond waarmee Johannes Homan (81) glo uit die Pelonomi-streekhospitaal in Bloemfontein ontslaan is.Foto: Verskaf


Gordon sê ’n dokter het Saterdagoggend vir die familie in Mediclinic Bloemfontein gesê dat haar oupa aan veelvuldige orgaanversaking dood is.

“Daar is ook vir ons gesê dat sy bloed vol infeksie was en dat wanneer daar langs die seer aan sy bobeen gedruk is, waarmee hy ook uit Pelonomi ontslaan is, daar etter uitgeloop het.”

Gordon sê na wat verneem word was die operasie self, toe penne ingesit moes word, goed uitgevoer by Pelonomi.
Twee stukke droë brood en ’n eiertjie is dan daar neergesit wat hy nie eers kom bykom nie. My oupa se mond was boonop rou en seer binnekant en hy het gesukkel om te sluk.


“Waarvan ons nie seker is nie, is of die teater en toerusting skoon was waarmee die wonde ná die tyd geheg is?”

“My oupa het ’n snaakse swart seer op sy een voet gehad toe hy uit Pelonomi ontslaan is.” (Sien foto.)

Hy kon in Pelonomi vier dae lank bedags nie eet nie omdat hy gewag het om geopereer te word. Hy sou dan saans weer kon eet omdat die operasie nie die dag kon plaasvind nie.

“Twee stukke droë brood en ’n eiertjie is dan daar neergesit wat hy nie eers kom bykom nie. My oupa se mond was boonop rou en seer binnekant en hy het gesukkel om te sluk.”

Gordon sê toetse by Mediclinic Bloemfontein het gewys dat haar oupa ’n proteïentekort gehad het.

“Die uitkomste vir my oupa sou dalk baie beter gewees het as hy nie twee weke op ’n operasie moes gewag het in Pelonomi nie.”

Sy sê daar is ook by Mediclinic gesê dat haar oupa bloedklonte aan die bobene gehad het, waarskynlik van die lang ruk wat hy gelê het.

*Mondli Mvambi, woordvoerder van die Vrystaatse gesondheidsdepartement, sê ’n behoorlike ondersoek gaan na die saak gedoen word.

Meer oor:  Pelonomi-Hospitaal  |  Sepsis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.