Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Hartswater: ‘Onaanvaarbaar dat Elzabie só vermoor is’

Dis onaanvaarbaar dat Elzabie Brand (54) só dood is, sê Wikus Taljaard, haar swaer.

“Sy het ’n goeie hart gehad en dinge op haar manier gedoen. Elzabie, haar ouers en susters was baie na aan mekaar.”

Elzabie, Breggie en Danie Brand. Foto: Verskaf

Brand se lyk is Dinsdagoggend in die Takaneng-nedersetting in Taung, Noordwes, gevind nadat sy en haar ouers, Breggie (73) en Danie (83), sedert Maandag vermis is. Hulle is vermoedelik Sondag reeds op die bejaarde Brand-egpaar se hoewe naby Hartswater in die Noord-Kaap aangeval. Dis by die grens met Noordwes.

Familielede het onraad vermoed toe hulle die Brands nie telefonies kon bereik nie. Vriende van die familie het Maandag op die chaos in die huis afgekom soos die moordenaars dit vermoedelik omgekeer het op soek na buit. Daar was ook bloed en die Sondag-middagmaal was onaangeraak, het Taljaard aan Ané van Zyl vertel.

Brand en haar ouers was skoonveld. Vier verdagtes is intussen in hegtenis geneem. Hulle het blykbaar aangedui waar die vermiste familielede se lyke is, maar teen Dinsdagmiddag laat is nog net Brand se oorskot gevind. Taljaard sê sy het steekwonde gehad en beserings aan haar kop en gesig.

Volgens hom het Brand, ’n gekwalifiseerde grafiese ontwerper, sowat ’n jaar gelede by haar ouers in Hartswater gaan woon nadat sy geskei is. Sy het tevore in Gauteng gewoon. Sy het van 2013 tot 2014 as ’n advertensiekonsultant vir Beeld in Pretoria gewerk.

’n Voormalige kollega wat saam met Brand by ’n ander onderneming gewerk het, maar anoniem wou bly, sê haar kollegas sal haar onthou as ’n opgewekte mens wat goed met kliënte kon werk. “Sy was net ’n lekker mens en baie vriendelik. Wat met haar gebeur het, is skokkend. Dit maak ’n mens siek.”

Brand het nie kinders nie. Sy het twee susters, Heidie Taljaard wat in Brackenfell in die Kaap woon (Wikus se vrou), en Trudie de Beer van Potchefstroom. Hul broer, Danie jr., is ’n paar jaar gelede in ’n motorongeluk dood.

Meer oor:  Elzabie Brand  |  Noordwes  |  Hartswater  |  Aanval  |  Moord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.