Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Hawelose kry sy 2 honde terug

’n Hawelose man van West­dene in Johannesburg is gister met sy twee honde herenig ’n week nadat ’n vrou aangebied het om hulle kos en ’n bad te gee en toe met hulle verdwyn het.

Jonathan Plaatjies (35) kon sy vreugde nie beteuel nie toe hy Blackie (6) en Brownie (5) by die Dierebeskermingsvereniging (DBV) in Randburg gaan haal het.

“Hulle was in die wolke toe hulle Jonathan weer sien,” sê Cynthia Swanepoel van die DBV.

Jonathan Plaatjies, ’n hawelose man van Westdene in Johannesburg, by sy Brownie.Foto: Murray Louw

Die honde was in ’n goeie toestand toe hulle by die DBV aangekom het, maar was volgens haar erg gestres.

Die hondebroers is ’n kruising van ’n skaaphond en ’n Duitse herdershond. Plaatjies het hulle as babahondjies by sy oom gekry.

Hy sê dit was ’n nagmerrie om sonder hulle te slaap. Hy kan homself nie sonder hulle voorstel nie.

“Ek het geweet ek sal hulle terugkry en het gebid om hulle weer te kry.”

Ian Logan, ’n restauranteienaar in Melville, sê Plaatjies kom vra elke aand kos vir sy honde.

Jonathan Plaatjies, ’n hawelose man van Westdene, is met Blackie herenig. Foto: Murray Louw

Toe hy verlede Donderdag sonder hulle daar aankom, het Logan dadelik geweet iets is nie pluis nie.

Plaatjies het hom toe gevra om hom te help om sy honde terug te kry.

Logan het ’n inskrywing oor die verlore honde op Facebook geplaas.

“Die gemeenskap se reaksie was ongelooflik, hoewel ons nooit uitgevind het wie die honde weggeneem het nie,” sê hy.

Toe die DBV die inskrywing op Facebook te lees kry, het hulle Logan laat weet Blackie en Brownie is by hulle.

Plaatjies het sy honde Dinsdag weer gesien.

Hulle moes aanvanklik by die DBV agterbly sodat hulle hul inentings kon kry.

Donderdag kon Plaatjies sy honde eindelik terugkry.

Hy sê hy maak altyd ’n plan om kos vir hulle in die hande te kry.

Logan sê hy sal aanhou om vir die honde en vir Plaatjies kos te gee.

Plaatjies het kos, kosbakkies, speelgoed en komberse van die DBV gekry.

“Dankie aan die gemeenskap wat my uitgehelp het om my honde terug te kry.

“Baie dankie aan mister Ian, wat my baie gehelp het,” sê Plaatjies.

Skenkings kan by die Ratz Bar en Diner-restaurant in Sewende Laan, Melville, afgelaai word.

Jonathan Plaatjies, ’n hawelose man van Westdene, is met sy twee honde, Brownie en Blackie, herenig.Foto: Murray Louw

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.