Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Haweloses bly nog onbepaald by biblioteek

Dit is ’n stil oggend, met die son wat warm deur die vensters op die rye matrasse in een van Pretoria se tydelike skuilings vir haweloses skyn.

Die meeste van die inwoners wat by die Lyttelton- openbare biblioteek in Centurion gehuisves word, is vroeg uit die vere. Sommige van hulle bedel, ander het gaan werk soek en sommige help in en om die biblioteek.

Met Netwerk24 se besoek aan die sentrum Vrydag het daar bossies gelê wat uit die tuin voor die ingang getrek is.

Een van die hawelose mans sit Vrydag in een van twee sale wat tydelik ingerig is en lees ‘n Bybel. Foto: Isabel Venter

Op die stoep sit Bella Phiri (37) besig om haar twee kinders se hare te vleg. Hulle bly al vir meer as ses maande by die skuiling nadat sy haar werk en woonstel weens die Covid-19-pandemie verloor het.

“Dit is nie maanskyn en rose nie, maar dit is seker so goed soos enige ander skuiling,” sê sy terwyl haar oudste van die stoel af hop en weghardloop om te gaan speel.

Sy soek desperaat werk en is vol hoop dat sy binnekort weer op haar eie twee voete sal kan staan.

Absolon Letsike (30), feitlik sy lewe lank op straat, staan nader. Hy bly sedert die begin van die pandemie by die biblioteek. As hy nie help met algemene herstelwerk by die sentrum nie, vaar hy die stad in met sy CV om werk te soek.

Hy is kundig as dit kom by die herstel van elektroniese toestelle, sê hy trots.

Namhla Hlophoyi (29) sing hardop terwyl sy die vloere was in die saal waar sy saam met ander hawelose mense woon. Foto: Isabel Venter
Bella Phiri (37) vleg haar oudste, Joshua (6), se hare op die stoep. Sy en haar twee kinders woon al amper ses maande in die tydelike skuiling by die Lyttelton-biblioteek. Foto: Isabel Venter

Hawelose mense in en om Pretoria woon steeds in tydelike skuilings wat deur die metroraad beheer word. Dié skuilings het minder geraak en deesdae is daar nog net drie tydelike skuilings oor, aldus die metroraad. Toe die Covid-19-pandemie nog in sy kinderskoene was, was daar nagenoeg tien tydelike skuilings in die stad opgerig.

Plaaslike inwoners is egter bekommerd omdat dit blyk dat die biblioteek dalk ’n permanente skuiling kan word.

Riëtte Kok van Lyttelton Manor was veral bekommerd dat die situasie sal ontaard soos toe van die haweloses verlede jaar op die nabygeleë sportpark gehuisves is. In April is veiligheid in die Lyttelton-omgewing opgeskerp en die Tshwane-metropolisie het klopjagte uitgevoer op die sentrums, het Netwerk24 berig.

Die sportpark se skuiling is intussen opgeruim.

LINK: https://www.netwerk24.com/Nuus/Gesondheid/gesukkel-om-hawelose-mense-binne-skuiling-in-pretoria-te-hou-20200412

Die metroraad het Vrydag gesê daar is nie sulke klagtes by die biblioteek nie.

Volgens Thabisile Vilakazi, burgemeesterskomiteelid van gemeenskaps- en maatskaplike ontwikkeling, word twee van die biblioteek se sale ingespan as slaapkwartiere – een vir mans en een vir die vroue en kinders. Kragtens die Rampbestuurswet (Wet 57 van 2002) is die metro gemagtig om openbare plekke soos biblioteke, museums en galerye in tye van nood oop te stel vir ’n maksimum van 50 mense, sê Vilakazi.

Absolon Letsike (30), wat eers ’n straatkind was, is goed daarmee om elektriese toestelle reg te maak. Hy sit gereeld in sy slaaphoekie en werk aan stukkende ketels en radio’s wat ander inwoners na hom toe bring. Foto: Isabel Venter
Foto: Isabel Venter

Solly Thabatha, sentrumbestuurder by die biblioteek, sê daar is in totaal 45 hawelose mense wat by die skuiling woon. Hy het ook bevestig dat die biblioteek gesluit is vir herstelwerk. Dit is onduidelik wanneer die biblioteek weer oopgestel sal word.

“Ons kan nie vir altyd die mense hier hou nie. Die pandemie gaan nie vir ewig aanhou nie, maar tot tyd en wyl ander planne gemaak kan word, hou ons hulle hier so veilig as wat ons kan,” sê Thabatha.

Haweloosheid is ’n mandaat wat die metro het waarvoor daar nie voldoende fondse is nie, volgens Vilakazi.

Sy hoop om fondse dié jaar te verseker sodat permanente skuilings elders in die stad ingerig kan word.

“Daar is ook bestaande geboue wat ons reeds geïdentifiseer het wat ons hoop om op te gradeer,” sê Vilakazi.

Die ideaal sal wees dat elk van Tshwane se sewe streke ’n sentrum van sy eie sal hê, sê sy.

“Ons het te veel mense wat na die sentrale deel van die stad se sentrums gebring word.”

Meer oor:  Biblioteek  |  Haweloses  |  Pretoria  |  Covid-19  |  Pandemie  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.