Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Hek by dagsorg-sentrum flenters gery ná skokbewerings

Die hek aan die voorkant van ’n dagsorgsentrum in Randfontein in Gauteng is Donderdagaand stukkend gery nadat ’n video op Facebook versprei is wat wys hoe kinders oënskynlik geklap, verjaag en rondgestamp word.

Dié voorvalle het na bewering by die Myne Maatjies-dagsorgsentrum gebeur. Die eienaar en twee personeellede is Donderdag in verband met drie klagte van aanranding, wat deur ouers aanhangig gemaak is, deur die polisie vir ondervraging ingeneem, maar later vrygelaat. Die polisie het ook op ’n hardeskyf beslag gelê om beeldmateriaal van kameras by die dagsorgsentrum te bestudeer.

Iemand het die hek voor die Myne Maatjies-dagsorgsentrum in Randfontein Donderdagaand stukkend gery.Foto: Werner Beukes

Ouers het hulle Donderdag na die huis in Van der Stel-straat gehaas om hul kinders te gaan haal nadat die video vinnig en wyd op sosiale media versprei is.

“Ek het Donderdagaand ’n slag gehoor, maar was te bang om te gaan kyk. Ek weet waaroor al die bohaai gaan en dink dat mense uit woede en frustrasie die hek gebreek het. Iemand het ook ’n bottel in die oprit flenters gegooi, het Tessa Agostinho, wat langs die dagsorgsentrum woon, Vrydag aan Netwerk24 gesê.

Juan Bezuidenhout, ’n buurman, het gesê hy het ’n wit dubbelkajuitbakkie sien wegjaag, maar kon eers later twee en twee bymekaarsit en het toe besef dat iemand die hek stukkend gery het.

“Daar was maar altyd ’n lawaai by die crèche, maar dit is mos wat kindertjies doen.”

Die dagsorgsentrum in Van der Stelstraat was Vrydag verlate. Foto: Werner Beukes

Netwerk24 het Vrydag die Myne Maatjies-perseel verlate aangetref. ’n Jong paartjie het voor die huis stilgehou en ’n video op hul selfoon geneem waarin hulle die eienares kru name toesnou. Toe Netwerk24 hulle daaroor wou nader, het hulle weggery.

Die eienares van Myne Maatjies het Vrydag in ’n video, wat op sosiale media versprei is, ouers om verskoning gevra en gesê dat kinders by die dagsorgsentrum eerste kom.

Sy het erken dat sy ’n seuntjie op die hande geklap het nadat hy ’n ander kind in die gesig gekrap het. “Ek het oorreageer en so iets sal nooit weer gebeur nie.”

Sy het gesê tugstappe sal gedoen word teen twee van haar helpers wat die kinders na bewering aangerand het.

Kol. Lungelo Dlamini, polisiewoordvoerder, het by navraag bevestig dat drie mense Donderdag deur die polisie vir ondervraging ingeneem is nadat bewerings van aanranding by die dagsorgsentrum aan die lig gekom het.

“Hulle is ná ondervraging weer vrygelaat. Die bewysstukke in die saak moet eers bestudeer word voordat verdere stappe gedoen kan word,” het Dlamini gesê.

“Ek weet waaroor al die bohaai gaan en dink dat mense uit woede en frustrasie die hek gebreek het,” het Tessa Agostinho, ’n buurvrou, gesê.Foto: Werner Beukes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.