Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Heli val: ‘Dít maak nie sin’

Daar was geen enkele noodroep oor die radio voordat Nico Heyns (70) met ’n Huey-helikopter van Werk met Vuur (WoF) naby Vermaaklikheid, suid van Riversdal, neergestort het nie.

Nico Heyns was die held van St. Francisbaai toe hy twee dae byna sonder ophou water op brandpunte gegooi het. Foto: News24

“Ek het oomblikke voor die ongeluk nog met hom oor die radio gepraat. Hy was ontspanne en gelukkig om in die lug te wees en die brande te help blus – soos altyd,” sê Kobus Crous, ’n kollega en jare lange vriend.

“Ek het net gaan land ná ’n verkenningsvlug saam met Deon van Wyk toe hulle my roep en sê die helikopter het geval en ek moet dadelik vlieg om te gaan help.”

Crous en DW du Plooy het dadelik soontoe gevlieg. Daar was reeds mense wat Nico uit die helikopter gehaal het voordat die wrak aan die brand geslaan het.

“Nico was ’n uiters versigtige vlieënier. Hy sou nooit gevlieg het as hy nie gemaklik gevoel het nie. Hy het Dinsdag nie eens kans gehad vir ’n noodlanding nie.

‘Ons is toegang tot die toneel geweier.’

“Iets moes radikaal verkeerd geloop het. Daar het dele van die helikopter oor ’n wye gebied versprei gelê.”

Crous het op versoek van die brandbestryders op die grond vir oulaas twee emmers water op sy maat se helikopterwrak gegooi om te keer dat dit verder brand. Heyns is op slag dood.

Crous en Heyns vlieg reeds jare saam en het in 2002 gaan soek na die vliegtuig waarin Hansie Cronjé, voormalige Protea-krieketkaptein, naby George neergestort het. Hulle het die wrak opgespoor.

Heyns se vriende en familie is ontevrede met die manier waarop die ondersoek na die ongeluk hanteer word.

WoF, ’n inisiatief van Kishugu Holdings om landwyd veldbrande te bestry, het die afgelope paar jaar reeds Hueys én van hul mees ervare helikoptervlieëniers in ongelukke verloor.

Die wrak van die Huey-helikopter waarin Heyns dood is. Foto: Suid-Kaap Forum

In 2015 het twee Hueys in die Wes-Kaap neergestort tydens ’n brandbestrydingspoging. Kort tevore het een van WoF se vastevlerk-waterbomvliegtuie en twee vuurleidingsvliegtuig ook geval.

In 2017 het nog ’n Huey by Bredasdorp geval. Niemand is in dié voorval beseer nie.

Die ondersoeke na die ongelukke het die skuld voor die deur van die vlieëniers gelê, buiten vir die ongeluk waarin Hendrik (Bees) Marais (71), Darrell Rea (39) en die vliegveiligheidsleier Jastun Visagie (23) in die Bainskloofpas dood is.

“WoF en die ondersoekers van die Burgerlugvaartowerheid het die afgelope week die tragedie nie baie goed hanteer nie,” sê Gerhard Meyer, nog ’n vriend van Heyns.

Heyns se familie en vriende het ’n onafhanklike ondersoeker en ’n senior advokaat gekry om die gebeure te bekyk.

“Ons is toegang tot die toneel geweier, terwyl die wrak klaarblyklik ná ’n blitsondersoek ter plaatse Donderdag reeds van die toneel verwyder is,” sê Meyer.

“Dieselfde middag wou die ondersoekers summier al die dokumente in Nico se studeerkamer vat, maar sy kinders het geweier.”

Trevor Abrahams, voorsitter van Kishugu, het gesê die dokumente is net gevra omdat dit nodig is vir die ondersoek.

“Ons verstaan die familie was nie geneë om dit te oorhandig nie, so die BLO sal formeel en skriftelik die dokumente aanvra.

“Die ongelukstoneel was onder die BLO se beheer en niemand anders word daar toegelaat terwyl die ondersoek aan die gang is nie. Dit is ook waarom WoF se werknemers die toneel deur die nag bewaak het.

“Die BLO het met ’n hommeltuig lugfoto’s van die toneel bekom.”

Abrahams sê die oorsaak van die ongeluk is nog nie bekend nie. Enige betrokke party kan met die BLO oor die ongeluk skakel, maar geen relevante inligting mag van die amptelike ondersoekers weerhou word nie.

Meer oor:  Nico Heyns  |  Helikopter-Ongeluk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.