Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Helikopter hys man op uit Bainskloof ná ongeluk

’n Helikopter het Sondagmiddag ’n man uit ’n voertuig gered wat van ’n hoë krans in Bainskloofpas tussen Wellington en Ceres in die Wes-Kaap afgery het.

Die helikopter moes nooddienswerkers uit die lug na die motor, wat sowat 150 m ver oor die afgrond gerol het, laat sak om die 21-jarige bestuurder te red.

Hy het ’n ernstige kopbesering opgedoen. Die ongeluk het omstreeks 14:15 gebeur toe hy saam met nog ’n man en ’n vrou in ’n wit Volkswagen deur die kantversperrings gebars en teen ’n krans afgestort het.

Die motor het op rotse langs die rivier op sy wiele geland nadat dit verskeie kere gerol het. Digte fynbosplantegroei het toegang tot die motor bemoeilik.

Vroeër is berig dat die ander twee insittendes lig beseer is en teen die krans opgeklim het om hulp te ontbied. Hulle het op die toneel behandeling ontvang en is na ’n hospitaal geneem.

“Nooddienste van die Wes-Kaapse departement van gesondheid, provinsiale verkeersdienste, Worcester-brandweer, die Worcester-polisie en ’n ER24-ambulans het by die toneel opgedaag,” lui ’n verklaring van Wildernis-soek-en-redding (WSAR).

Die Skymed-helikopter in Bainskloofpas Foto: Verskaf
Nooddienste op die toneel waar die helikopter se hulp ingeroep is. Foto: Verskaf
Die wit Volkswagen wat sowat 150 m ver by die krans afgerol het. Foto: Facebook/Drakenstein Farm Watch

“Lede van die publiek het baie gehelp met die beheer van die verkeer en mense op die ongelukstoneel. Twee beamptes van die polisie het van die pad af na die toneel gestap deur by een van die voetpaaie af te gaan, wat ongeveer 200 m van die ongelukstoneel af begin.”

Daar is vasgestel dat ’n helikopter nodig sal wees om die man te help.

“ ’n Skymed-helikopter het om 16:21 by die toneel opgedaag en ’n nooddienswerker en ’n reddingswerker is na die motor laat afsak. Die helikopter het daarna weer gaan land en gewag vir nuus oor die 21-jarige se toestand.

“Om 17:10 moes die helikopter weer opstyg om die pasiënt te gaan haal en vyf minute later is hy vir verdere behandeling boontoe gebring.”

Die helikopter moes toe weer opstyg om die ander reddingswerker te gaan haal. Om 17:50 het die helikopter met die beseerde na die Tygerberg-hospitaal in Kaapstad gevlieg.

’n Ambulans van die gesondheidsdepartement het die ander twee pasiënte hospitaal toe geneem.

Meer oor:  Wellington  |  Ceres  |  Helikopter  |  Ongeluk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.