’n Helikoptervlieënier, glo in sy middel twintigs, het Dinsdagoggend met sy helikopter in ’n Eskom-kraglyn vasgevlieg waarna die helikopter geval het.
Die ongeluk het omstreeks 07:40 op die plaas Silwerstroom naby Wolseley gebeur en die vlieënier was glo een van twee wat gewasbespuiting gedoen het in die gebied.

’n Stofwolk kan gesien word waar die helikopter geval het. Foto: Verskaf
Nelia Retief, ’n ooggetuie, sê haar huis kyk uit op die ongelukstoneel. “Ek het ’n helikopter gehoor en kort daarna ’n groot slag,” sê sy.
“Daar het ’n groot stofwolk in die lug gehang. Nie lank daarna nie het ’n ander helikopter, wat ook bespuiting doen, na die toneel gevlieg.”
Volgens haar is die nooddienste en die polisie tans op die toneel.
Netwerk24 kon nie onmiddellik bevestiging kry oor die vlieënier se toestand nie. Lede van die Burgerlugvaartowerheid (BLO) is glo op pad na die toneel, maar dit kon nie onmiddellik met die BLO bevestig word nie.
Die ongeluk het daartoe gelei dat die elektrisiteitstoevoer na die Ceres-omgewing afgesny is.
Barnito Klaasen, burgemeester in die Witzenberg-streek, en David Nasson, munisipale bestuurder, het Dinsdagoggend vergader oor die probleem.

Die ongelukstoneel op die plaas naby Wolseley. Foto: Facebook/Boland Dorpe