Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Helikopter-vlieënier se as gestrooi

’n Deel van die as van die helikoptervlieënier Nico Heyns, wat verlede maand dood is toe sy helikopter in ’n brandbestrydingsoperasie neergestort het, is Woensdag op Bloubergstrand in Kaapstad gestrooi.

Heyns (70) is op 23 Oktober dood toe sy helikopter by Vermaaklikheid, naby Riversdal in die Suid-Kaap, neergestort het.

Riaan Heyns en Suzanne Nicolaisen strooi ’hul broer, Nico Heyns, se as by Bloubergstrand.Foto: Jean du Plessis
Nico Heyns Foto: Verskaf

Die as is gestrooi op dieselfde plek waar sy ma, Helen (Heyns) van der Merwe, se as gestrooi is. Die res van sy as sal deur sy kinders op sy plaas buite Knysna (Gouna) gestrooi word.

Die as is gestrooi op die 51-jaar-reünie van ’n groep skoolmaats wat saam met Heyns in 1967 aan die Hoërskool D.F. Malan in Bellville, Kaapstad, gematrikuleer het.

Frans Lassalle du Toit, ’n voormalige onderwyser van die matriekgroep, en Jean du Plessis, ’n voormalige hooffotograaf van Die Burger, was ook teenwoordig.

Heyns se suster, Suzanne Nicolaisen, ’n kunstenaar wat deesdae in Kalifornië woon, en sy broer, Riaan Heyns, het ook die reünie bygewoon. Hulle het eers in ’n restaurant gekuier en is toe na die strand waar die as gestrooi is.

Stercia Joliffe, wat die reünie gereel het, sê dit was ’n wonderlike geleentheid.

“Nico het ’n wonderlike persoonlikheid gehad. Hy het ’n goeie sin vir humor gehad, maar ook ’n diep kant. Ek en my man was bevoorreg om by hom op sy plaas in Knysna te kon kuier. Hy was baie gasvry en vrygewig en niks was ooit te veel moeite vir hom nie. Hy was ’n baie ervare vlieënier en het jare lank brandbestryding gedoen.”

Op Bloubergstrand vir die strooi van Nico Heyns se as, is van links Eben Human, Suzanne Nicolaisen, Riaan Heyns, Stercia Jolliffe, Ria van der Merwe, Letitia du Toit, Keith Jolliffe, Elize Wessel en Theresa Louw. Foto: Jean du Plessis
By die Blue Peter-restaurant in Bloubergstrand was voor van links: Jean du Plessis, Eben Human en Elize Wessel. Agter van links is Frans Lassalle du Toit (onderwyser), Suzanne Nicolaisen, Ria van der Merwe, André de Haan, Theresa Louw, Letitia du Toit, Sarel van der Merwe, Marian Theron, Willie Theron, Stercia Jolliffe, Elisma Rossouw, Gerda Pretorius, Marianna Meyer en Magda Blignaut.Foto: Verskaf

Heyns, ’n bekende in lugvaartkringe, is as ’n held en ’n legende beskryf. Hy het onder meer gehelp om die verwoestende brande in Knysna en omliggende gebied in Junie 2017 te blus. In 2016 het hy ook twee dae lank ononderbroke gehelp om ’n brand by St. Francisbaai en Kaap St. Francis onder beheer te bring.

Volgens Nicolaisen was haar broer altyd baie nederig. “Hy het meestal sy kollegas, hetsy in die lug of op die grond, krediet gegee vir al hul ondersteuning. Dit is ’n groot verlies.”

* Heyns word oorleef deur twee dogters, Hutton Roberts en Zanne Massyn, en ’n seun, Adriaan Heyns.

Meer oor:  Nico Heyns  |  Helikoptervlieënier  |  Sterfte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.