Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
‘Herdenking van ABO kan heling bring’
Die 120ste herdenking van die Anglo-Boereoorlog (ABO) word gehou met 'n internasionale konferensie by die Oorlogsmuseum in Bloemfontein waar meer as 50 sprekers optree. Prof. Fransjohan Pretorius, emiritus-professor in geskiedenis aan die Universiteit van Pretoria (regs), was die openingspreker. Van links is hier prof. Stephen Miller van die Universiteit van Maine in die VSA, prof. Stephen Badsey van die Universiteit van Wolverhampton in Engeland, Tokkie Pretorius, direkteur van die museum, prof. Edward Spiers, historikus aan die Universiteit van Leeds in Engeland, en em.-prof. Pretorius. Die konferensie duur tot Vrydag. Foto: Mlungisi Louw/Netwerk24

Die herdenking van die Anglo-Boereoorlog is belangrik omdat die geskiedenis homself nou in Suid-Afrika herhaal met die aanvalle op vroue en kinders en die xenofobiese aanvalle.

Só sê Tokkie Pretorius, direkteur van die Oorlogsmuseum in Bloemfontein, waar die uitbreek van die ABO dié week 120 jaar gelede herdenk word. Die oorlog het amptelik op 11 Oktober 1899 begin.

Pretorius sê in verwysing na die lyding van vroue en kinders in die ABO die huidige aanvalle op vroue en kinders in Suid-Afrika en die xenofobiese aanvalle wys dat mense nie begryp wat dit aan die land doen nie.

“Die oorlog word kontemporêr gemaak oor wat vandag aangaan. Die museum staan nie net as museum nie, maar as ’n plek van nasiebou en vir sosiale kohesie en veral vir nasie-genesing.”

Skaduwees teen ’n gedenkmuur. Die skaduwees van die lede van Die Radio Kalahari Orkes maak hier spookmusiek teen die gedenkmuur vir Boerevroue en -kinders in die amfiteater by die Oorlogmuseum in Bloemfontein. Die RKO het by die Boereradio rock-konsert opgetree aan die vooraand van die 120ste herdenking van die Anglo-Boereoorlog. Foto: Charles Smith

“Deur die oorlog te herinterpreteer, deur almal hul regmatige plek te gee, wit en swart, en ook die vyand, soos ons die Britte in die ou dae genoem het, kan ons saamkom en sê dat so iets nooit weer mag gebeur nie. Die pyn wat kolonialisme veroorsaak het, die oopmaak van die wonde wat dit gelaat het, kan ware heling bring.”

Die herdenking word gevier met ’n internasionale konferensie by die museum oor die ABO waar meer as 50 sprekers van so ver as Brittanje en Amerika deelneem. Prof. Fransjohan Pretorius, emiritus-professor aan die Universiteit van Pretoria, was die openingspreker op die eerste dag. Hy het gesê daar word steeds deur die wêreld boeke oor die ABO geskryf.

Vergewe en vergeet . . . ’n Engel van ’n graf van ’n Boere-kind in die Bethulie-konsentrasiekamp lyk of hy treur in die halflig voor die Oorlogmuseum in Bloemfontein aan die vooraand van die herdenking van die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog 120 jaar gelede. Foto: Charles Smith
Bittereinders. Twee Boere-oudstryders suig aan hul pype by die beeld Afskeid 11.10.1899 voor die Oorlogsmuseum in Bloemfontein. Die eerste Boereradio-konsert het Dinsdagaand hier plaasgevind. Môre op 11 Oktober presies 120 jaar gelede het die Anglo-Boereoorlog tussen die Boererepublieke en Brittanje uitgebreek. Altesaam 50 000 Suid-Afrikaanse vroue is in die oorlog dood – wit en swart. Die oudstryders is MC Heunis en Dana Swanepoel, albei van Bloemfontein.Foto: Charles Smith

Die gebeure het Dinsdagaand afgeskop met ’n Boereradio-konsert in die amfiteater voor die museum. Ian Roberts en sy Radio Kalahari Orkes (RKO) en ander musikante het tot laataand musiek gemaak.

’n Minuut stilte is gehou vir die meer as 50 000 swart en wit vroue wat in die oorlog dood is.

Die gewilde televisiereeks Arende, waarin Roberts die Kaapse rebel Sloet Steenkamp gespeel het wat as krygsgevangene op St. Helena aangehou is, het op ’n grootskerm voor die Muur van Herinnering gewys, waar die bykans 27 000 name van Boerevroue en -kinders aangebring is wat in die konsentrasiekampe gesterf het.

Themba Ndebele-Monyela, ’n historikus en raadslid van die Suid-Afrikaanse Nasionale Museum vir Militêre Geskiedenis in Johannesburg, sê die konferensie is relevant en waardevol omdat dit Suid-Afrikaners en buitelandse kenners en belanghebbendes saambring.

Die ABO was eintlik ’n internasionale oorlog waarin verskeie nasionaliteite soos Russe, Turke en Amerikaners teen mekaar geveg het. Dit was nie net die boere wat die imperialistiese Engeland aangedurf het nie.

Die betrokke oorlog se nagevolge is nogal uiteenlopend, sê hy.

“Die beloftes van die Engelse aan swartmense wat saam met hulle geveg het dat hulle politieke regte sou kry, is nie nagekom nie. Die gevolg was dat die ANC later hier in Bloemfontein gestig is. Dit is nogal relevant dat die konferensie juis in Bloemfontein plaasvind in ’n tyd waarin ons land moet nasie bou om die toekoms tegemoet te gaan.”

Prof. Edward Spiers, ’n historikus van die Universiteit van Leeds in Engeland, kenner van Victoriaanse militêre geskiedenis en skrywer van drie boeke oor die beleg van Ladysmith, Mafekeng en Kimberley, sê konferensies oor groot oorloë het beslis groot waarde.

“Dit lig mense van oral oor die wêreld in oor die huidige navorsing oor oorloë se oorsake, die gebeure, en die afloop daarvan. Konferensies verfyn ons begrip, want bestaande kennis en navorsing word gedurig vernuwe met nuwe metodologie, bronne, ontdekkings en interpretasies.”

Meer oor:  Amerika  |  Brittanje  |  Genesing  |  Anglo-Boereoorlog  |  Herdenking
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.