Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
‘Here, vat my soos ek is’

Tannie Poppie van As (63) van Touwsrivier se roosterkoek het haar onlangs tot in Italië geneem, maar wanneer mense skimp sy is nou famous, is haar antwoord altyd dieselfde. “Ek kan nie daarbó roosterkoek braai nie. Ek bly net so plat op die aarde soos ek is.”

Tannie Poppie van As. Foto: Alet Pretorius

Want tannie Poppie, skaars ’n baksteen en ’n tiekie hoog, het al harde bene gekou. En haar roosterkoek-sukses, wéét sy, is die antwoord op haar smeekgebed aan die Here jare gelede, toe sy finansieel swaar getrek het.

Tannie Poppie is op 25 September Italië toe waar sy haar bekende roosterkoek by die Eroica-fietsrybyeenkoms verkoop het.

Stan Engelbrecht (43), die Suid-Afrikaanse organiseerder van Eroica, het tannie Poppie sewe jaar gelede by haar padstal ontmoet. “Binne die eerste paar minute was ek gefassineer deur haar persoonlikheid. Ek wou net tyd saam met haar bestee.” Toe Engelbrecht ’n paar maande later ’n fietsrybyeenkoms organiseer, het hy tannie Poppie gekontak.

Die organiseerders het die borrelende tannie Poppie op hul onkoste na Italië gevlieg vir die driedaagse fietsrybyeenkoms in Gaiole.Haar tyd in Italië was ’n belewenis, vertel tannie Poppie. “Ek het met ’n boot van een dorp na ’n ander gery.”

Toe leer oom Piet haar roosterkoek maak.

Tannie Poppie se stalletjie langs die N1 is deesdae ’n bekende baken. Die handlengte brode wat sy en haar dogter, Amy (24), daagliks daar rooster, word gevul met botter, konfyt, kaas, biltong of wors en smoor.

“As ek terugkyk in my geskiedenis in, toe dit so swaar gegaan het – ek het sewe kinders – vra ek asseblief Here, maak vir my ’n deur oop. Oorsee, toe ek die mooi plekke so kyk, besef ek nie dadelik nie, maar terug in Suid-Afrika weet ek toe die Here het my Italië toe gevat om my te wys wat Hy vir my in die toekoms wil bring.”

Rosaleen van As (tannie Poppie se regte naam) het aanvanklik gewone brood gebak. Sy wou graag ’n bakkery begin, maar het nie die toerusting gehad nie.

Toe kom wyle oom Piet Geldenhuys, kroegeienaar van die Kuierkraal op Laingsburg, met die idee dat sy haar brood in die Kuierkraal se bakoond moet kom bak.

Dit was oom Piet wat haar destyds oor die kole gehaal het omdat haar brood te goedkoop was. “My magtig, Rosaleen, dié brood is nie R9,50 nie,” lag tannie Poppie oor sy verontwaardiging destyds. Hy het haar gevra om vir hom vyf wit- en vyf bruinbrode te bak. Toe gee hy haar ’n rooster en braaibak en leer haar roosterkoek maak.

Baie jare gelede was tannie Poppie een van ’n span mense wat op die N1 gehelp het om paaie reg te maak. Die ouderling John Morris het destyds sy werkmense van Laingsburg af gebring om Touwsrivier-inwoners te kom leer om die snelweg-herstelwerk te doen.

Een van dié mense was Cornelius van As. Kort voor lank was tannie Poppie en Cornelius (53) verlief en het hy by haar ingetrek. Tot die ouderling gedreig het om tannie Poppie van haar kerkwerk te onthef. “Toe trou ons, want ek is mos gelowig,” het tannie Poppie Donderdagaand in Johannesburg vertel. Haar roosterkoeke is by die jaarlikse Pendorings-toekenningsaand bedien.

“Ek wil vir mense sê, moenie moed opgee nie. Kom tot inkeer.” Dan loop die trane oor haar wange. “Sê net: Here, hier is ek, vat my soos ek is.”

Meer oor:  Touwsrivier  |  Roosterkoek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.