Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Hermanus-betogers gooi klippe, brand rommel

Talle inwoners van Zwelihle, Hermanus, het Woensdagaand paaie met brandende rommel versper en motors met klippe bestook tydens ’n betoging oor behuising.

Dié protesaksie het reeds die oggend begin toe sowat 5 000 inwoners na die kantore van die Overstrand-munisipaliteit opgeruk het om ’n memorandum met hul eise te oorhandig. Masibulele Jimlonga, ’n gemeenskapsleier, sê hulle is raadop omdat sekere mense al sedert 1991 wag op ordentlike huise. Volgens hom is daar ook “korrupsie” in dié munisipaliteit omdat sekere amptenare na bewering omgekoop word om mense se name op die waglys vir huise te sit.

Talle inwoners van Zwelihle, Hermanus, ruk Woensdag op na die Overstrand-munisipaliteit om ’n memorandum waarin hulle woonplek eis te oorhandig. Foto’s: Anena Burger/Hermanus Times

Hoewel dit aanvanklik ’n vreedsame optog was, het die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) op die dorp gesê dat motors in Swartdamweg, wat na Zwelihle lei, met klippe bestook is. Die GPF het ook bevestig dat motors by die Ou Hawe beskadig is en daar ’n sterk polisieteenwoordigheid is. Die skare het ook geëis dat Bonginkosi Madikizela, DA-leier in die Wes-Kaap, hulle toespreek.

Madikizela het Woensdagaand gesê hy was Dinsdag reeds in ’n vergadering om die vordering met die behuisingsprojek met die gemeenskap van Zwelihle te bespreek, maar dat die vergadering verdaag is omdat gemeenskapslede onder mekaar gestry het oor wie die eintlike leiers is en wie die vergadering moet bywoon.

“Ek vind dit vreemd dat hulle vandag betoog, want hulle betoog oor die verkeerde dinge en verkeerde mense. Hulle moet teen hulself betoog omdat hulle die rede is waarom die vergadering nie gister (Dinsdag) kon voortgaan nie.”

Rommel brand Woensdag in ’n straat van Hermanus.

Madikizela het ook gesê daar sal Sondag om 14:00 ’n openbare vergadering op die sportterrein in Zwelihle wees om die kwessie van wie die werklike gemeenskapsleiers is, te bespreek.

Volgens ’n verslaggewer van die Hermanus Times, Anena Burger, het dié groep Woensdagaand besluit om nie terug te keer na hul huise voordat iemand met hulle gepraat het nie. Volgens Burger het Dan Plato, LUR vir openbare veiligheid in die Wes-Kaap, omstreeks 19:00 op Hermanus aangekom om met die skare te praat. Volgens die GPF is ’n paar mense reeds in hegtenis geneem.

Die polisie kon ondanks herhaaldelike pogings nie vir kommentaar bereik word nie.

Meer oor:  Hermanus  |  Betoging
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.