Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Herrie om Etzebeth kring uit

Bewerings van rassisme en wangedrag in ’n voorval by die Langebaan-seiljagklub waarby die Springbokslot Eben Etzebeth betrek word, kring al hoe wyer uit.

Twee mans van Kaapstad het Maandag twee e-posse aan die bestuur van die Langebaan-seiljagklub aan die Weskus gestuur waarin hulle beweer Etzebeth en van sy vriende het hulle Saterdagmiddag ook daar wangedra en dat rassistiese aanmerkings gemaak is.

Eben Etzebeth. Foto: Gallo Images

Luidens die e-posse van Victor Khan en Andy Khan was hulle Saterdag saam met van hul familielede by die seiljagklub. Albei is lid van die seiljagklub en is verwant aan mekaar.

Hulle beweer Etzebeth het saam met ’n groep mense by die seiljagklub aangekom. Hulle skryf ook die groep was aggressief en het aanhoudend neerhalende aanmerkings teenoor anderskleurige mense gemaak.

Victor skryf in sy e-pos die woord “h*tn*ts” is gebruik en dat daar ook by die seiljagklub ’n geveg was waarby die groepie mense betrokke was.

Andy Khan skryf op sy beurt dat Etzebeth se groepie die seiljagklub se reëls op verskeie maniere oortree het.

Hulle bevraagteken ook Etzebeth se lidmaatskap.

Etzebeth het Maandag bevestig dat hy wel Saterdag by die seiljagklub was. Hy het gesê daar was ’n voorval, maar dat hulle vrede met die man gemaak het toe hulle daar weg is. “Ons het nog hand geskud,” het hy gesê.

Enver Blaauw beweer hy is Saterdagaand deur ’n groepie mans in Langebaan aangerand.

Hy het daarna gesê hoewel hy eerder graag self met die media sal wil praat, gaan hy eers sy prokureur konsulteer.

Sy prokureur, André Calitz, het Maandagaand gesê hulle staan by Etzebeth se kommentaar dat hy nie betrokke was by enige rassevoorvalle of bakleiery nie.

Verskeie boodskappe om kommentaar is by die seiljagklub gelos. Niemand het daarop gereageer nie.

Etzebeth is Sondag ook betrek by die aanranding van ’n groep mense Saterdagaand in Langebaan. Hy het egter Sondag ontken dat hy enigiemand fisiek aangerand of op rasgronde aangeval het.

Etzebeth het ná medianavrae en klagtes op sosiale media gesê die aantygings teen hom is “heeltemal onwaar en ongegrond” en dat verskeie getuies dit sal kan bevestig.

Hy het Maandag ook gesê die polisie het hom glo gevrywaar van enige skuld in die aanrandingsaak.

Nigel Samuels, ’n prokureur aan die Weskus, het egter Maandag gesê vier mense het reeds verklarings by die polisie afgelê waarin ’n groepie mense, waarvan Etzebeth deel is, by die beweerde aanranding Saterdagaand in Langebaan betrek word.

Die polisie het Maandag bevestig daar is ’n ondersoek na mense wat Saterdagaand laat deur ’n groepie mans aangerand is. Niemand is nog in hegtenis geneem nie, sê sers. Noloyiso Rwexana, ’n polisiewoordvoerder.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.