Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Herrie oor trans-atleet

Die skerm-gemeenskap is in mekaar se hare oor die teenwoordigheid van ’n vrou wat voorheen as ’n seun aan dié sport deelgeneem het, by nasionale kompetisies wat die afgelope week gehou is.

Rebecca Pretorius (tweede van regs) nadat sy die sabel-afdeling vir vroue in Kaapstad gewen het. Foto Verskaf

Rebecca Pretorius (19), voorheen David Pretorius, het as vrou aan die Suid-Afrikaanse Universiteitsport (Ussa) se skermtoernooi in Kaapstad deelgeneem.

Sy het die sabel-afdeling gewen en was tweede in die floret-afdeling.

Saterdag het sy op die senior nasionale toernooi van die Skermfederasie van Suid-Afrika (FFSA) ook die tweede plek in die floret-afdeling behaal.

Sommige ouers en afrigters van ander skermers is omgekrap oor Pretorius se deelname, maar die FFSA sê hy is tevrede dat sy kwalifiseer om as vrou deel te neem.

Pretorius, wat ’n geslagsveranderingsprosedure ondergaan het, het aan die FFSA bewyse verskaf dat haar testosteroonvlak aan die laer kant van die spektrum vir vroue is.

Gister het 20 verteenwoordigers van universiteitspanne hul steun aan Pretorius toegesê. Hulle het ’n petisie onderteken waarin hulle hul misnoeë uitspreek oor “die veldtog van teistering en transfobie” teen haar.

Hulle sê Pretorius, wat in die Universiteit van Kaapstad se span is, het geen voordeel in dié toernooi nie.

As seun was Pretorius, wat in die Fish Hoek High School was, ’n gedugte skermer en het Suid-Afrika in 2015 by die Junior Afrika-kampioenskapstoernooi in Algerië verteenwoordig.

Sy is deesdae ’n aktivis vir transgender-regte.

Gunter Schröder, adjunkpresident van die FFSA, het aan Rapport gesê die organisasie het nog nie ’n formele beleid oor transgender-skermers nie en volg intussen die Internasionale Olimpiese Komitee (IOK) se riglyne. Hulle het ook die Suid-Afrikaanse reg en die Britse skermbeleid oor transgender-atlete nagevors.

Schröder sê op grond van die bewyse wat Pretorius aangebied het en ten einde nie ongrondwetlik te diskrimineer nie, het die FFSA besluit om haar toe te laat by nasionale kompetisies.

Charel Bester, voorsitter van Ussa-skerm, sê hulle het ’n omsendbrief aan mense in die skermgemeenskap gestuur om te maan teen geslagsdiskriminasie, emosionele misbruik, viktimisering of teistering weens ’n persoon se geslag. Dit was vir ingeval iemand oor Pretorius se deelname sou kla.

“Wie ook al kla, of gaan kla, moet dit net aanvaar: dit is soos dit is,” sê hy oor Pretorius se deelname as vrou.

Sedertdien was daar geen klagtes nie.

Niell Bester, ’n voorsitter van ’n Gautengse skermklub, sê die FFSA behoort die skermgemeenskap vooraf te verseker dat ’n transgender-atleet se testosteroonvlak binne perke is. Die proses moet deursigtig wees.

Maar ’n ontstoke pa van ’n skermer, wat nie sy naam genoem wil hê nie, sê: “Dis onbillik teenoor die ander meisies. (Pretorius) is as ’n man gebore. Mans is fisiologies sterker en vinniger as vroue. Ek wil nie ’n seksis wees nie, maar haar deelname gaan die ranglyste van die ander heeltemal omverwerp.”

Jon-Paul Raper, ’n senior skermer en afrigter van Port Elizabeth, sê Pretorius het as seun al baie goed presteer in skerm.

“So, dis ’n bietjie onregverdig teenoor die meisies. Pretorius se lyf is deur drastiese veranderinge, maar die DNS bly dieselfde. Mans is groter en sterker, wat hulle bevoordeel. Niks hiérvan het verander nie.

“Dis soos Usain Bolt wat besluit om ’n vrou te word en teen vroue gaan hardloop,” sê hy.

Nog ’n pa van ’n skermer wat anoniem wil bly, sê: “In ’n werksomgewing is transgendermense nie ’n kwessie nie, want almal het min of meer dieselfde breinkrag. Maar in sport is dit anders: jou lyflike eienskappe gaan jou bevoordeel.”

Chris Mostert, voorsitter van die Gautengse Skermvereniging, sê transgender-sportlui moet eers hul “probleme” met die departement van binnelandse sake uitsorteer en op hul paspoorte herklassifiseer word voordat hulle op nasionale vlak aan sport deelneem.

“Wat as sy kwalifiseer om in Augustus aan die Afrika-Spele in Rabat, Marokko, as vrou deel te neem, maar die paspoort sê sy is ’n man?”

“Ek het nie ’n probleem met transgender-skermers nie. As meisies teen Pretorius gaan verloor, dan het hulle nie verdien om te wen nie,” sê Mostert.

Thobekile Moyo van Wits se span op die Ussa-toernooi sê sy het ’n regverdige kragmeting met Pretorius gehad. “Haar enigste, effense voordeel is haar lengte, maar elke skermer (op die toernooi) het een of ander fisieke voordeel.”

Alex Collings, ’n Ussa-skeidsregter, sê Pretorius het ’n dieper begrip van die reëls en tegniese nuanse van die floret (een van die wapenkategorieë) as haar teenstanders. Dís waarom sy uitblink, nie oor haar fisieke eienskappe nie, sê hy.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.