Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Hesmarie se pa vang krokodil nadat sy gebyt is
Die krokodil van byna 3 m lank wat Dinsdag gevang is. Plaaslike inwoners het die dier sommer dadelik begin slag nadat sy karkas uit die rivier gehaal is. Foto: Verskaf

Hendrik van Loggerenberg, pa van die 15-jarige Hesmarie wat in Januarie deur ’n krokodil in Swartruggens, Noordwes gebyt is, het Dinsdag een van die krokodille in die omgewing gevang.

Hesmarie het in ’n swemgat op die krokodil getrap, waarna hy haar aan haar linkerbeen beetgekry het. Danksy haar gespartel en verskeie mans in die omgewing wat haar te hulp gesnel het, het die krokodil haar laat gaan.

Van Loggerenberg het Donderdagoggend gesê hy span nou al ’n geruime tyd kabels ’n ent van die swemgat af in die Elandsrivier waar die krokodil Hesmarie gegryp het. Hy het ’n vis aan ’n hoek as lokaas gebruik.

“Ek en my vriend (Nelson Harmse) het Dinsdagoggend vroeg gaan kyk en gesien die krokodil het gebyt. Toe ek nader gaan, het hy soos ’n kat geblaas. Hy het omgedraai en homself in die kabel vasgedraai.”

Van Loggerenberg het die plaaslike gemeenskapspolisiëringforum (GPF) geskakel.

Wilhelm Röcher, GPF-voorsitter in Swartruggens, sê toe hy en sy seun, Xander, daar opdaag, was daar al verskeie mense.

“Een het ’n swaarkaliber-jaggeweer gehad, maar was te bang om te skiet. Xander het die krokodil twee keer geskiet – agter die nek en by die blaaie – terwyl hy in die water was. Die krokodil was amper 3 m lank.”

Volgens Röcher het die GPF op ’n onlangse vergadering met Noordwes se departement van omgewingsake en natuurbewaring toestemming gekry dat die inwoners die krokodille mag skiet as hulle gewaar word.

“Ons het ooreengekom dat die departement dadelik in kennis gestel sal word. Ons het dit ook Dinsdag gedoen nadat die krokodil geskiet is.”

Amptenare van die departement het die vel na ’n taksidermis geneem nadat die mense op die toneel dit geslag het. Die departement het in Januarie ook ’n krokodil gevang in die omgewing waar Hesmarie aangeval is.

Volgens Van Loggerenberg oorweeg hulle nog stappe teen wie ook al verantwoordelik was vir die teenwoordigheid van die krokodille in die omgewing.

’n Man se hand pas mooi oor die poot van die krokodil wat Dinsdag gevang is. Foto: Verskaf

“Hesmarie is nog baie getraumatiseer. Sy skrik sommer vir enigiets,” sê hy.

Die bytwonde aan haar linkerbeen was so ernstig dat daar aanvanklik gevrees is dat sy haar been kan verloor. Hesmarie herstel egter goed en is weer terug in haar gr. 8-klas aan die Swartruggens Gekombineerde Skool.

Krokodille is al ’n geruime tyd voor die aanval op Hesmarie in die omgewing gesien.

Daar word wyd bespiegel dat hulle gedurende 2018 uit Gawie le Roux se krokodilplaas sowat 500 m van die Elandsrivier ontsnap het. Die plaas is intussen verkoop en daar word nou met beeste geboer.

Meer as een bron beweer dat daar van April 2018 tot die einde van daardie jaar nie behoorlik na Le Roux se plaas en diere omgesien is nie.

Hesmarie van Loggerenberg kort nadat sy uit die hospitaal ontslaan is. Foto: Susan van Loggerenberg

Volgens Le Roux was dit omdat daar probleme met ’n kooptransaksie tussen hom en die nuwe eienaar was. Hy is glo later in 2018 terug na die plaas om die diere te help voer. Dis nie duidelik wie na die diere omgesien het toe die plaas en krokodille in Junie 2019 op ’n veiling verkoop is nie. Die krokodille se nuwe eienaars het hulle later in 2019 verwyder.

Noordwes se departement van biodiversiteitsbestuur het vanghokke en waarskuwingsborde opgerig nadat Hesmarie aangeval is.

Jonathan Denga, direkteur van die departement, het vroeër gesê bewusmakingsveldtogte is ook aan die gang om mense te waarsku om nie naby die water te kom nie.

Sy departement ondersoek nou die teenwoordigheid van krokodille in die omgewing. Volgens Denga kan hy egter nie nou te veel inligting bekend maak nie omdat dit moontlik later in hofsake ter sprake kan kom.

Denga was nie Donderdagoggend dadelik beskikbaar vir kommentaar nie.

Dumisa Seshabela, woordvoerder vir Noordwes se departement van ekonomiese ontwikkeling, omgewingsake, bewaring en toerisme, het vroeër gesê ander krokodilplase in die omgewing het geldige permitte en die departement besoek die plase gereeld om seker te maak dat die vereiste standaarde gehandhaaf word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.