Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Het giftige gas tienermeisie se lewe geëis?

Daar is glo tekens van ’n giftige gas gevind in die tienermeisie wat die naweek onder raaiselagtige omstandighede in Port Elizabeth dood is.

Tammy Ingram (13) is Sondagoggend in ’n hospitaal in die stad dood. Haar broer, Matthew (16), veg steeds om sy lewe.

Volgens ’n familielid wys toetsuitslae dat daar ’n giftige gas in haar liggaam was.

Matthew Ingram veg om sy lewe in ’n hospitaal in Port Elizabeth. Foto: Verskaf

Vroeër is berig Tammy, Matthew en hul ouers is Saterdag in die vroeë oggendure van hul huis in ’n woonkompleks in Kabegapark na ’n hospitaal gehaas nadat hulle ernstig siek geword en begin braak het.

Tammy en Matthew is in die hospitaal opgeneem, terwyl hul ouers, Stanton en Selina, behandel en ontslaan is.

Andrew Chetty, Selina se broer, wat namens die familie praat, sê hulle is platgeslaan oor Tammy se dood en hulle bid nou vir Matthew se herstel.

“Matthew is ’n sterk seun, maar Tammy se klein lyfie kon dit nie hanteer nie. Sy was ’n klein prinsessie.

“Dit voel so onwerklik, soos ’n nagmerrie. Matthew is nog kritiek, hy is steeds in ’n (geïnduseerde) koma,” het ’n emosionele Chetty gesê.

Dokters het reeds sy ouers ingeroep om afskeid van hul seun te neem, maar kort hierna het Matthew effens herstel.

Die Ingram-gesin het Saterdagoggend ernstig begin siek word, gebraak en kon skaars loop. ’n Familielid het hulle gehelp om by die hospitaal te kom.

Chetty sê Matthew wou nie hulp hê totdat sy suster behandel is nie. “Hy is so ’n sterk seun. Daardie broer en suster is nader aan mekaar as enige ander.”

By die hospitaal is die kinders in ’n geïnduseerde koma geplaas nadat hulle aanvalle gekry het.

“Ons het toe nog geglo dit is voedselvergifting. Maar by die hospitaal het ons gehoor die familie het nie eens almal dieselfde kos geëet die vorige aand nie.

Tammy Ingram (13) Foto: Verskaf
Matthew Ingram (16) Foto: Verskaf

“Saterdagoggend het ons toetsuitslae by die hospitaal gekry. Dit het gif aangedui, maar dit was nie van kos nie, maar ’n tipe gas.”

Aanvanklik het die familie vermoed die gas van die yskas, wat die enigste gas in hul huis is, het gelek en giftig geword.

Saterdagmiddag het nog ’n familielid ondersoek by die Ingram-huis ingestel. Volgens Chetty het ’n sterk reuk van chemikalieë in die huis gehang.

Skaars 24 uur later het ’n buurman blykbaar beweer een van die huise in die woonkompleks, naby die Ingram-gesin se huis, is Vrydag gefumigeer. Dié huis is in die mark.

Inwoners van die blok met ses duplekswooneenhede, waaronder die een is wat te koop is, is glo almal Vrydagaand ontruim, maar die Ingram-gesin is glo nie hieroor ingelig nie.

Die verkoopsagent van die wooneenheid wat blykbaar gefumigeer is, het Dinsdag gesê hy gaan nie kommentaar lewer nie en het navrae na die plaagbeheermaatskappy verwys, wat volgens hom deur die verkoper aangestel is.

By navraag aan dié maatskappy het ’n vrou gesê daar is nie tans iemand wat kommentaar kan lewer nie.

Volgens kol. Priscilla Naidu, polisiewoordvoerder, duur die ondersoek na die voorval voort. “Die polisie sal alle moontlikhede ondersoek om vas te stel wat gebeur het, insluitend onderhoude met verteenwoordigers van die fumigasie-maatskappy.”

Vir ons is familie alles. Ons leef by mekaar. As hulle nie hier is nie, is ons by hulle.

Chetty sê hulle glo die ondersoek sal vinniger as gewoonlik verloop, aangesien daar soveel mense is wat bereid is om te help.

“Op die oomblik wil ons net vir Matthew terug by ons hê, maar nou is daar nog dié situasie ook om te hanteer. Matthew weet nog nie eens sy suster is dood nie.

“Vir ons is familie alles. Ons leef by mekaar. As hulle nie hier is nie, is ons by hulle.”

Chetty het Tammy, ’n leerling van die Erica Primary School, beskryf as ’n briljante, nederige kind, met groot belangstelling in viool speel.

Matthew, ’n leerling aan die Westering High School, is volgens Chetty ’n sterk seun en uitstekende rugbyspeler.

Dié skool het op Facebook hul leerlinge gevra om vir die Ingram-gesin te bid, veral vir Matthew, wie se niere ernstige probleme ondervind.

Chetty sê Matthew sal waarskynlik bloedoortappings en moontlik ’n skenkernier moet kry. Hy moedig mense aan om in dié tyd bloed te skenk.

Intussen is ’n aanlyn fondsinsameling vir Matthew se hospitaaluitgawes begin. Weens die finansiële druk wat deur die koronaviruspandemie veroorsaak is, is die gesin genoodsaak om hul lidmaatskap aan ’n mediese fonds te beëindig.

Chetty sê die familie is oorweldig deur die goedhartigheid van mense, wat nie net bereid is om te help in die ondersoek na die oorsaak van die voorval nie, maar ook finansieel.

• Die aanlyn fondsinsameling kan hier besoek word.

Meer oor:  Tammy Ingram  |  Port Elizabeth  |  Toetsuitslae  |  Dood  |  Sterfte  |  Raaisel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.