Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Hier gaat ons, 47 jaar al in dieselfde Peugeot

’n Motor kan onverwagse mense oor jou pad bring, het oom Fanie en tannie Alta Stander opnuut die afgelope week besef. ’n Wildvreemde vrou vra of sy ’n foto van hulle en hul motor in die parkeerterrein van die Queen’s Mall in Oudtshoorn mag neem.

Oom Fanie en tannie Alta Stander van Oudtshoorn in hul Peugeot 404 wat hulle al van 1975 het. Dis ‘n 1972-model. Foto: HELENA MALAN

Die motor? ’n Roesbruin Peugeot 404, 1972-model, in ’n puik toestand. Eintlik práát die versorging en omgee wat uit die motor se toestand spreek met ’n mens.

“Vir R2 000 kón ek nie beter koop nie,” sê oom Fanie (83) oor dié ryding wat nou al 46 jaar in die familie is.

Hy en tannie Alta (81) is boorlinge van die Oudtshoorn-omgewing. Hy is naby De Rust gebore en sy kom van die Langkloof.

Albei het ná skool ’n jaar lank opleiding aan die Posskool in Oudtshoorn ontvang en in 1958 in die poskantoor daar begin werk. Oom Fanie onthou sy beginsalaris was £28.

Hulle is in 1966 getroud.

Motors moet met agting bejeën word.

Die posmeester, ene mnr. Goosen, het die Peugeot in 1972 nuut gekoop. In 1975 het die Standers dit by hom gekoop.

Later is hulle met die einste Peugeot na sy begrafnis toe.

Hy het met sy fiets werk toe gery sodat die motor nie in die son hoef te staan nie, dus was dit in ’n uitstekende toestand toe dit ’n nuwe eienaar gekry het. En is dit vandag nog. Mens se asem slaan weg as oom Fanie die enjinkap oplig.

Deur die jare is die Peugeot met respek en liefde behandel en versorg. Die motor het nou 154 000 km op die klok en het menige bruid na haar troue vervoer. “Baie matriekafskeidkarre, en troukarre, ja!” onthou oom Fanie.

Oom Fanie en tannie Alta Stander se Peugeot 404. Foto: HELENA MALAN

’n Hele paar mense het hom al voorgekeer met ’n aanbod vir die motor, maar hy kon dit nog nie oor sy hart kry om die ou strydros te groet nie.

Hy is baie trots daarop dat die motor nog dieselfde spuitverf op het waarmee dit in 1972 uit die fabriek gekom het. Hy het dit wel ’n behandeling met ’n spesiale duur politoer (Permagloss) gegee, wat hy glo help dat die motor nou nog so blink.

Hy het spesiaal nuwe vlekvryestaalvellings in die Kaap laat maak, waarvoor hy nogal moes wag, want die vervaardiger wou darem nie net vir een voertuig die vellings met net drie boute maak nie.

Peugeots is nogal eksentrieke motors: Die 404 het nog ’n slinger wat ’n mens kan gebruik as die battery pap is.

Oom Fanie en tannie Alta Stander van Oudtshoorn by hul Peugeot 404 wat hulle al van 1975 het. Dis ’n 1972-model. Foto’s: HELENA MALAN

“Dis ’n gevaarlike ding,” waarsku oom Fanie. “As die kompressie terugstoot, kan hy jou arm afslaan.”

Van 2013 het hul seun, Christo, ’n polisiekaptein in Oudtshoorn, met die Peugeot gery, maar hy is in April vanjaar dood. “Dit is al kind wat ons het . . . gehad het.”

Die Standers woon steeds in die huis wat hulle in 1970 vir R8 000 laat bou het.

Wanneer laas het jy so ’n skoon enjin gesien? En dít in ’n 49 jaar oue motor!
Die slinger waarmee mens dit aan die gang kan kry as die battery pap is.

Die woonkamer wys dadelik motors is vir hierdie mense persoonlikhede wat met agting be­jeën moet word. Daarvan spreek die sorgvuldig geraamde fotogeskiedenis, en oom Fanie kan elkeen se storie vertel.

Toe hulle in 1983 ’n toervakansie Namakwaland en Weskus om onderneem het, het hulle 3 031 km ver gery en R167 aan petrol bestee. Christo het die kosteberekening gedoen.

Het jy ook so ’n lekker storie oor jou motor? Stuur e-pos na nuus@rapport.co.za en vertel ons daarvan.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.