Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Hier is die land se heel rykstes

Hy het R65 miljard in die Steinhoff-ramp verloor, maar die sakeman Christo Wiese (76) is steeds die tweede rykste Suid-Afrikaner op die jongste indeks van die land se tien welvarendste mense, waarvan die helfte wit en Afrikaans is.

Al tien is mans en een is swart.

In sy geheel beskou, bevat die lys van die 50 rykstes in City Press se welvaartindeks, wat vandag in City Press en Rapport bekend gemaak word, 16 Afrikaanssprekendes, 49 mans en net vyf swart mense, waarvan die rykste die magnaat Patrice Motsepe is. Met bates van R22,75 miljard is hy, wat 7,4% van Sanlam besit, R10 miljard armer as Wiese.

Die heel rykste man in die land, met bates van R71,8 miljard, is die Switserse mynboufirma Glencore se Ivan Glasenberg, wat in Suid-Afrika gebore is en studeer het, maar deesdae in ’n luukse chalet van glas en staal aan die Zürich-meer se oewer woon.

Die indeks toon dat die bron van die superrykes se welvaart die afgelope tien jaar ingrypend verander het.

Hoewel Glasenberg uit mynbou ryk geword het, is hy een van slegs drie op die top-50 wat uit mynbou hul fortuin gemaak het, teenoor 15 uit die 50 in 2008. Dié 15-tal het destyds ingesluit Cyril Ramaphosa, die platinumbaas Lazarus Zim, Mvela­phanda se Tokyo Sexwale, en Exxaro se Sipho Nkosi. Geen van hulle is vanjaar op die lys nie.

Intussen het die bankiers – baie van hulle Afrikaans en almal wit – inbeweeg en opbeweeg: 17 van die top-50 het uit aandele in die finansiële sektor skatryk geword. Capitec en sy groot aandeelhouer die PSG-Groep is die rede waarom ses uit die top-50 die lys gehaal het, waaronder Capitec se Michiel le Roux (nr. 10) en PSG se Jannie Mouton (nr. 12). FirstRand sorg vir vyf uit die 50, waaronder Laurie Dippenaar (nr. 4).

Discovery se Adrian Gore (nr. 13) is een van drie uit die 50 in mediese en finansiële dienste.

Die rykdom van altesame 11 uit die 50 spruit uit beleggings in die gelyste eiendomsektor – ’n relatiewe nuutjie op die JSE.

Ons weet egter nie hoeveel hul skuld nie.

Die navorsing vir City Press se indeks is gedoen deur Who Owns Whom op grond van maatskappydokumente, aankondigings en aandeleregisters, wat tussen 2006 en 2018 gepubliseer is, asook die besoldiging van direkteure en uitvoerende amptenare wat bekend gemaak is deur maatskappye wat op die JSE gelys is vir die 2017- finansiële jaar.

Dit sluit bonusse en skeidingspakkette in.

Die bevindings sluit in:

* Die top-50 is saam R323 miljard werd, omtrent wat die waarde is van Namibië en Mosambiek se gekombineerde ekonomieë;

* In 2008 was daar 13 swart mense in die top-50 rykste uitvoerende hoofde en direksielede van JSE-gelyste maatskappye. Nou is daar vyf;

* Net soos in 2008 is daar vandag net een vrou op die lys. Destyds was dit die mynboumagnaat Nonkqubela Mazwai. Nou is dit Sygnia se Magda Wierzycka;

* In die 2016-’17- finansiële jaar was Markus Jooste, voormalige uitvoerende hoof van Steinhoff, die bes betaalde korporatiewe baas, met ’n totale pakket in daardie uiteindelik rampspoedige jaar van R202 miljoen (sien Sake). Dit is genoeg om aan 4 814 mense vir ’n jaar die voorgestelde minimumloon te betaal. Ook die tweede bes betaalde uitvoerende hoof was van Steinhoff.

* Die top-50 se bates is gelyk aan 7,1% van alle pensioenspaargeld in die land en 28% van alle geld wat Suid-Afrikaanse huishoudings in die bank het.

Patrice Motsepe

Suid-Afrika bly een van die lande in die wêreld met die grootste gaping tussen ryk en arm mense.

* Glasenberg se aandele in Glencore was in Junie nog R84 miljard werd, maar het intussen teruggeval tot R66 miljard nadat Amerika se departement van justisie aangekondig het hy ondersoek korrupsiebewerings teen Glencore oor sy bedrywighede in Nigerië, die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) en Venezuela;

* Wiese sou nr. 1 gewees het as dit nie vir die Steinhoff-skandaal was nie. Sy oorblywende welvaart – steeds tien keer soveel as wat dit in 2008 was – is veral danksy sy 17%-aandeel in Shoprite. Sy 37-jarige seun, Jacob, wat ook tydens die Steinhoff-debakel in die direksie van dié maatskappy ge­dien het, is volgens die City Press-indeks in die 90ste plek met bates van R440 miljoen.

* Ander bekendes in die top-50 is Naspers se voorsitter Koos Bekker (nr. 7), wie se rykdom die afgelope tien jaar van R917 miljoen toegeneem het tot R13,5 miljard, en Johann Rupert (nr. 8).

City Press se welvaartindeks is nie perfek nie: Die lys word saamgestel uitsluitlik uit die 2 600 direkteure van maatskappye wat gelys is op een van die vyf plaaslike aandelebeurse, vernaam die JSE. Baie van hulle het niks met Suid-Afrika te doen nie. Daar is boonop talle miljardêrs wat op die indeks hoort, maar wie se skatte in private, ongelyste maatskappye is. Wendy Applebaum, byvoorbeeld, is dalk Suid-Afrika se rykste vrou, maar sy het nie JSE-direkteursposte nie. Douw Steyn, die versekeringsmagnaat wat ’n stad in sy eie naam gebou het, is nie gelys nie.

Die merkbare afname in swart superrykes op die lys teenoor 2008 kan deels daardeur verduidelik word dat hulle uit hul direkteursposte bedank het. Dit sluit in pres. Ramaphosa, wat in 2008 19de was met gelyste aandele van R1,4 miljard. Zim was nr. 18, maar nou nr. 69, omdat hy bedank het uit die direksies van Sanlam en Mvelaphanda Resources. Ook MTN se voormalige baas, Sifiso Dabengwa, is waarskynlik nou meer werd as die R1,8 miljard se MTN-aandele wat hy in 2008 besit het, maar hy is onsigbaar vir die indeks, want hy is nie meer in die direksie nie.

Vir dié wat wel daarop pryk, weet ons nie watter ander aandele hulle besit nie, hoeveel eiendom, of kontant in hul bankrekening lê nie. Ook nie hoeveel hulle betaal word vir ander werk nie – en hoeveel hulle skuld nie.

Meer oor:  Rykdom
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.