Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Hiermee beboet ek jou vir alles van die beste ...

’n Tshwane-metropolisiebeampte het Saterdagaand met Tania van Twisk (35), ’n deeltydse model in ’n rolstoel, se henneparty vir haar ’n kaartjie geskryf, maar dit was nié ’n verkeersboete nie.

Die metropolisiebeampte was in ’n ligte luim en het vir Tania op ’n ander kaartjie voorspoed toegewens met haar lewe vorentoe.

Tania het ’n paar restaurante saam met haar strooimeisies, haar ma en haar aanstaande skoonma in ’n partytjiebus besoek toe hulle omstreeks 19:00 in ’n padblokkade in Lynnwoodweg, Pretoria, afgetrek word.

“Die metropolisiebeamptes was baie vriendelik en professioneel. Ek sien toe die een skryf iets en het gedink dit is ’n boetekaartjie,” sê Tania.

Tania van Twisk trou volgende maand met Read van Zyl. Die tweetjies is sedert Januarie ’n paartjie en het van dag een af geweet hulle is vir mekaar bedoel.
Tania van Twisk, wat in haar onderlyf verlam is ná ’n ernstige motorongeluk sowat nege jaar gelede waarin sy haar rug gebreek het, trou op 17 Oktober met Read van Zyl.
Tania van Twisk, wat in ’n rolstoel is ná ’n ernstige motorongeluk sowat nege jaar gelede waarin sy haar rug gebreek het, trou op 17 Oktober met Read van Zyl.

Die metropolisiebeampte het die kaartjie aan die vroue oorhandig en tot hul verbasing was dit nie ’n boete nie, maar eerder mooi woorde wat hy vir die aanstaande bruid geskryf het.

“Wishing you the best in all the way you go. Dan.”

Hierdie wense is op ’n kaartjie geskryf waarop gaste raad vir die bruid moes skryf. Die kaartjies was voor in die bus beskikbaar.

“Dit is ’n baie mooi gebaar, want ’n mens is altyd bang vir die metropolisie. Dit was toe nou so lekker dat hy vir ons ’n mooi briefie geskryf het, veral in hierdie slegte inperkingstyd waar almal bang is hulle doen iets verkeerd,” sê sy.

Maar volgens Tania was hulle geensins bang of bekommerd nie – hulle het wel gewonder waarvoor hy ’n boete skryf.

Sy trou op 17 Oktober met Read van Zyl (30), ’n private speurder, in Muldersdrift. Hulle moes al twee keer die troudatum skuif weens die Covid-19-inperking.

Die kaartjie met mooi wense wat ’n Tshwane-metropolisiebeampte vir Tania van Twisk op haar henneparty geskryf het.

Hulle gaan ’n intieme troue met familie hê.

Read en Tania, albei van Equestria in Pretoria, is nog nie lank saam nie, maar hulle het van dag een af geweet hulle is vir mekaar bedoel, sê sy.

Hulle is sedert 3 Januarie ’n paartjie en het op 19 Februarie verloof geraak.

Tania redigeer musiekvideo’s en is ’n grafiese ontwerper, terwyl sy deeltyds modelwerk doen. Sy lewer ook motiveringspraatjies.

Sy is verlam in haar onderlyf nadat sy sowat nege jaar gelede haar rug in ’n ernstige motorongeluk gebreek het.

“Read aanvaar my soos ek is en staan my altyd by. Hy is regtig die liefde van my lewe wat ek uiteindelik ontmoet het,” sê Tania.

Read van Zyl en Tania van Twisk trou oor ’n maand.
Tania van Twisk trou binnekort met die liefde van haar lewe, Read van Zyl, wat haar aanvaar nes sy is.

Meer oor:  Tania Van Twisk  |  Pretoria  |  Tshwane  |  Lynnwoodweg  |  Padblokkade  |  Kaartjie  |  Metropolisie  |  Troue
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.