Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Historici vaar uit teen ‘SA Oorlog’
Die geskiedenis moet aangepas word by die ANC se bisarre rasse-ideologie.

Regstelling: 

In die berig "Boere-oorlog kry 'n nuwe naam"  is verkeerdelik geskryf dat Nathi Mthethwa, minister van kuns en kultuur, amptelik die naam verander het van die Oorlogsmuseum van die Boere-rupublieke in Bloemfontein tot die Suid-Afrikaanse oorlogmuseum, en dus daarmee saam die naam van die oorlog. Mthethwa het daarop gewys dat hy wel gesê het dat dit in die toekoms oorweeg moet word om die naam te verander tot die Suid-Afrikaanse oorlogmuseum, maar dat hy dit nie amptelik aangekondig het soos berig is nie. Volgens hom is dit nodig om die naam te verander as deel van die proses om die nalatenskap van die verlede korrek te weerspieël. Swartmense het aan weerskante van die oorlog geveg en gesneuwel, terwyl die geskiedenis dit hoofsaaklik 'n "witmensoorlog" genoem het. Daar is ook verkeerdelik berig dat hy die naam van die Anglo-Boere-oorlog verander het, hoewel hy die keuse gemaak het om daarna te verwys as die Suid-Afrikaanse Oorlog soos sommige historici ook doen. Hy het dit gedoen "omdat mense van meer as 34 verskillende lande betrokke was" en hulle moet almal erkenning kry.

Dit is verstommend dat die ANC-regering ’n oorlog ’n amptelike naam wil gee en dit in mense se voorhuise, studeerkamers en in biblioteke wil indwing.

So het Fransjohan Preto­rius, emeritus professor in geskiedenis aan die Universiteit van Pretoria, gereageer op die aankondiging deur Nathi Mthethwa, minister van kuns en kultuur, dat die Anglo­Boereoorlog (ABO) voortaan as die Suid-Afrikaanse Oorlog bekend sal staan.

“Geen naam sal bevredigend wees nie. Die ABO verwys na die Engelse en Boere se betrokkenheid. Inderwaarheid was dit Engelse, Skotte, Au- stra­liërs, Nieu-Seelanders, Boere en swart mense. Deur te verwys na die Suid-Afrikaanse Oorlog sluit jy die aggressor, die Britse Ryk, uit,” sê hy.

Mthethwa is “ ’n geslag agter” as hy dink daar is eers onlangs oor swart mense se betrokkenheid by die ABO begin skryf, sê Pretorius.

“Ons Afrikaanse historici skryf al byna 40 jaar daaroor. Dis nie nou skielik dat dit in ons geskrifte voorkom nie.”

Pretorius sê voorts sal Afrikaanse boeke nie verkoop as daar verwys word na die Suid-Afrikaanse Oorlog nie. “Prof. Bill Nasson het ’n Engelse boek oor die oorlog, The War for South Africa, geskryf. Toe Tafelberg dit in Afrikaans uitgee, het hulle Anglo-Boereoorlog in die titel gebruik omdat Afrikaanse lesers dit so ken.”

Volgens Pretorius het die regering met die eeufees van die ABO van 1999 tot 2002 die oorlog die Anglo-Boere-Suid-Afrikaanse Oorlog genoem.

“Dit het nooit inslag gevind nie, want dis bloot te lomp. Mthethwa se naam sal ook nie inslag vind nie.”

Dr. Louis Bothma, Bloemfonteinse geskiedenisskrywer, het op Facebook uitgevaar teen die minister se aankondiging.

“Ons het nou met idiote, wit en swart, te doen wat absoluut geen begrip van die komplekse historiese prosesse van die afgelope 100 jaar en meer het nie.”

Volgens Bothma het niemand beswaar daarteen dat swart mense se rol en lyding erken word nie, maar hoe die nuwe naam vir die oorlog daaraan erkenning gee, slaan hom dronk.

“Dit het maar net met politieke korrektheid te doen. Die geskiedenis moet aangepas word by die ANC se bisarre rasse-ideologie. Die uiteinde van alle historiese prosesse moet die rasse- en geslagsamestelling van die bevolking weerspieël.”

Dr. Pieter Mulder, leier van die VF+, sê die minister kan nie eensydig besluit om die naam te verander nie.

“Nêrens is historici, die parlementêre portefeuljekomitee of die publiek deur openbare deelname gekonsulteer oor so ’n naamsverandering nie. By die verandering van dorpsname is daar streng voorwaardes van hoe en wie almal gekonsulteer moet word.

“In die tydperk 1899 tot 1902, waartydens die oorlog plaasgevind het, het Suid-Afrika nog nie bestaan nie. Suid-Afrika is ’n begrip wat eers ná Uniewording in 1910 ontstaan het.”

Meer oor:  Nathi Mthethwa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.