Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Historiese stadsaal pronk weer ná groot herstelprojek

Vier jaar nadat Bloemfontein se stadsaal erg in ’n brand beskadig is, is herstelwerk aan dié historiese gebou verlede week voltooi.

’n Groot deel van die stadsaal is in 2017 in puin gelê toe dit op 21 Junie deur werkers van die Suid-Afrikaanse Munisipale Werkersunie (Samwu) aan die brand gesteek is.

Die Bloemfonteinse stadsaal ná die brand in 2017.

Lebohang Masoetsa, Mangaung se waarnemende burgemeester, sal binnekort die gebou in ontvangs neem, waarna dit vir die publiek oopgestel sal word.

Qondile Khedama, woordvoerder van die metro, sê Masoetsa sal eers die perseel besoek voordat die res van die stad die gebou van binne kan besigtig. Daarom verkies hulle dat geen foto’s nou van binne die perseel gepubliseer word nie.

“Ons is baie in ons skik met die herstelwerk,” sê Khedama.

“Dit was vir ons belangrik dat die estetika van die gebou behoue moes bly en ons dink die restoureerders het hulle goed van hul taak gekwyt.”

Anton Roodt van Roodt Argitekte, wat die restourasie gedoen het, sê hy is baie tevrede met die eindproduk.

Bloemfontein se stadsaal pryk nou weer trots tussen President Brand-straat se rits erfenisgeboue. Foto: Maricelle Botha

“Projekte van dié skaal voel soms of dit aanhou en aanhou, en wanneer dit dan klaar is, is jy eintlik verras oor hoe mooi alles bymekaargekom het.”

Hy sê die belangrike ding om te onthou, is dat die verlede reeds vir altyd verby is en hoewel die stadsaal nooit weer 100% dieselfde sal lyk nie, daar ook ’n hele paar opgraderings saam met die herstelproses gekom het.

’n Hysstoel is langs die verhoog geïnstalleer en die klankstelsel, beligting en lugreëling is opgeknap.

Roodt sê hulle het wat die materiaal betref so getrou as moontlik probeer bly aan wat voorheen gebruik is.

Die vensterrame is in Birmaanse kiaat oorgebou soos dit oorspronklik was. Dit is ’n baie skaars en harde hout. Hy sê te oordeel na die vensters wat nie in die brand vernietig is nie, het die rame die afgelope 80 jaar glad nie verweer nie.

Die argitek Gordon Leith het in 1930 ’n kompetisie gewen vir die ontwerp van die stadsaal en was aanvanklik van plan om die gebou met wit marmer af te werk, sê Roodt.

Die marmer is toe met sandsteen vervang, wat ook plek-plek gerestoureer moes word.

Die vloer is oorspronklik van karri-hout gemaak wat uit Australië ingevoer is. Hulle kon nie weer daarvan in die hande kry nie en het dus kiaat van Zimbabwe gebruik om die vloer te vervang.

Dit is ’n geveerde vloer en Roodt meen dit is omdat die saal vroeër jare gereeld vir deftige danspartytjies gebruik is.

Alle ligte en ligtoebehore is replikas van die oorspronklikes en is spesiaal in geelkoper vir dié projek gegiet.

’n Nuwe verhooggordyn en -beligting is aangebring, asook bykomende beligting in die voorportaal, wat voorheen donker was.

Meer oor:  Stadsaal  |  Herstelwerk  |  Bloemfontein
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.