Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Hlaudi beveel: Weg met RSG se ‘Kommentaar’
Uitvoerende regisseur sê niemand weet van besluit
Foeta Krige foto: edrea du toit

RSG se Kommentaar, die nuusbesprekingsprogram Sondagaande, is die jongste slagoffer van die SAUK se veldtog teen politieke kritiek.

Kommentaar was lank oor die radio. Dit sal net soos The Editors (op SAfm) uitgefaseer word as deel van ’n proses om ou programme met nuwes te vervang,” het Kaizer Kganyago, SAUK-woordvoerder, gister bevestig.

“Ek weet absoluut niks van die besluit nie,” het Foeta Krige, uitvoerende regisseur van Monitor, Spektrum en Kommentaar gister geskok gesê. “Niemand by die nuusafdeling is bewus van die besluit nie. Nie ons of RSG se bestuur is enigsins hieroor geraadpleeg nie.” Hy sê Kommentaar word beslis vanaand uitgesaai.

“As Kaizer so sê dan is dit so,” is al wat Hlaudi Motsoeneng, SAUK-bedryfshoof, wou sê toe Rapport hom vra hoekom niemand buiten die woordvoerder van die besluit weet nie.

“Ek is by ’n begrafnis. Ek kan nie nou praat nie. Praat met Kaizer,” het hy gesê.

Kganyago het hom bloedig vererg toe Rapport hom terugbel met die nuus dat Krige niks van sy aankondiging weet nie.

“Wie dink Krige is hy? Ek is die woordvoerder. Hy kan nie my woord bevraagteken nie.

“As jou maatskappy vandag besluit om nie môre ’n koerant uit te gee nie, kan jy dit mos nie in twyfel trek nie.”

Gereelde deelnemers aan die program was geskok.

“Dit is tragiese dag. Ek kan nie glo die uitsaaikorporasie kan binne ’n oogwink besluit om ’n uitstekende joernaalprogram van die lug af te haal wat met sorg oor 25 jaar aangebied is nie,” het Theo Venter, politieke ontleder aan die Noordwes-Universiteit, gesê. “Die enigste rede vir die besluit is politieke gedienstigheid.

“Honderde boere het al vir my gesê hulle luister nie meer deur die week na die radio nie omdat Kommentaar vir hulle op ’n Sondagaand ’n samevoeging van die nuus bied. Dit is vir hulle ’n instelling soos wat Rapport ’n instelling vir baie mense op ’n Sondag is,” het hy gesê.

Venter, die oudjoernalis Max du Preez, die politieke waarnemer Harald Pakendorf en Niekie van den Berg, voormalige RSG-stem, het die eerste uitsending van Kommentaar in 1991 gedoen. Du Preez is woedend.

Kommentaar is ná 25 jaar steeds ongelooflik gewild.

“Vir baie gewone Afrikaanse mense is dit die grootste bron van inligting wat vir hulle insig, konteks en agtergrond oor die week se gebeure bied.”

Dr. Piet Croucamp, politieke ontleder aan die Universiteit van Johannesburg en gereelde paneellid op die program, sê die besluit is kommerwekkend.

“Ek vra myself nou af of ek myself enigsins met die SAUK kan vereenselwig en of ek my nie kontamineer wanneer ek iets met hulle te doen het nie. Dit is duidelik dat jy ’n marionet moet wees. As jy die regte ding sê, is dit oukei. As jy die verkeerde ding sê, is jy nie welkom nie.”

  • Die SAUK moet teen môre aan die Onafhanklike Kommunikasieowerheid (Okosa) verduidelik waarom hy weier om beeldmateriaal van protesoptrede uit te saai, berig Andisiwe Makinana van City Press.

Dit kom nadat die Media Monitoring Project (MMP) gekla het dat die SAUK sy plig as openbare uitsaaier versuim en dat die verbod die Grondwet oortree. William Bird van die MMP sê die verbod kom neer op sensuur. Die SAUK het geargumenteer dat die saak nie dringend is nie, maar Okosa het teen die uitsaaier beslis.

Meer oor:  Kaizer Kganyago  |  Hlaudi Motsoeneng  |  Radio  |  Rsg  |  Kommentaar  |  Sauk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.