Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
‘Hlaudi se gif is oral’
Ivor Price in ’n vroeëre onderhoud.

Hlaudi Motsoeneng se “giftige tentakels” is oral in die SAUK ingeslaan. Selfs as hy môre afgedank word, gaan dit lank duur om die skade wat hy aangerig het, te herstel.

So skryf die Monitor-aanbieder Ivor Price in ’n stuk op ­Netwerk24 waarin hy sy bedanking by die SAUK aankondig.

Hoewel sy besluit nie regstreeks verband hou met die afdanking van agt senior SAUK-joernaliste vandeesweek nie, is dit duidelik dat die situasie by die SAUK vir hom onhoudbaar geword het.

In sy skrywe, wat die vorm van ’n tydlyn aanneem, sê Price dit was teen Mei nie meer lekker om soggens werk toe te gaan nie.

Nadat Jackson Mthembu, ANC-hoofsweep, vroeër vandeesmaand “vriend en vyand verras het” deur die SAUK in die openbaar te roskam, het ’n kollega Price vergeefs probeer oorreed om aan te bly omdat “dinge móét verander”.

“Ek is nie oortuig nie. Motsoeneng se giftige tentakels is oral in die SAUK ingeslaan. Selfs al sou hy môre bedank of afgedank word, gaan dit lank neem voordat goeie joernaliste oor die verlammende vrees kan kom. Dis ’n vrees wat ek goed verstaan, want mense het gesinne.”

Price sê Monitor het “vreesloos en sonder guns” oor die SAUK-woelinge berig, maar ander nie. “Al hoe meer SAUK-joernaliste sê reguit in die gange hulle wil nie aan SAUK-verwante stories raak nie, want hulle het te veel om te verloor.”

Volgens Price het hy vandeesweek besef die SAUK het ’n plek geword “waar jy jou werk kan verloor omdat jy van ’n kollega verskil”.

“Op die eerste bladsy van my aanstellingsbrief word groot gewag gemaak van die waardes wat die SAUK nastreef: Praat, luister en hoor; integriteit; uitnemendheid en die koestering van diversiteit. In die laaste paar weke kon ek geen bewyse vind dat dit hoegenaamd die geval is nie.”

Price sê hy sal altyd dankbaar wees vir die geleenthede wat die SAUK gebied het, “maar ek kan nie hulpeloos toekyk hoe onreg ook in my naam geskied nie. Ek ween, want eintlik is die Afrikaanse SAUK-wêreld ’n plek van uitnemendheid. Ek sukkel ook om my ’n lewe sonder my radiovrou (sy mede-aanbieder, Anita Visser) te verbeel. Ek haal my hoed af vir haar en die span.”

Price maak op 5 Augustus klaar by die SAUK. Hy het nog nie die naam van sy nuwe werkgewer bekend gemaak nie. Die SAUK het teen druktyd nie op ’n versoek om kommentaar gereageer nie.

30 Mei 2016:

Dit voel of donker wolke begin saampak. Die Afrikaanse nuusomgewings was nog altyd veilig en vreesloos, maar ons kry al hoe meer die indruk dat ons dopgehou word.

Dié oggend is die joernalis Tim du Plessis en prof. Franz Kruger, ’n gewese SAUK-man en nou joernalistiekdosent, by ons in die ateljee. Hulle draai nie doekies om oor die SAUK se besluit om nie meer oor gewelddadige protes te berig nie.

Later hoor ons Motsoeneng het al sy speelgoed op die vloer van sy kantoor uitgegooi.

Hy’t die vorige dag in ’n selfoongesprek vir my gesê hy kan nie vanoggend deelneem nie, "but I’ll come to face my music". Hy is vies omdat ek dít ook op die lug gesê het.

20 Junie 2016:

Foeta Krige (uitvoerende regisseur van en kom sit ongemaklik op my lessenaar. Hy was pas in die SAUK se oorkoepelende oggend­nuusvergadering. “As ek nog nie is nie, word ek vandag sug hy.

Hy lyk moedeloos. Blykbaar was daar ’n opdrag dat die SAUK se nuusdienste nie oor ’n Right2Know-­betoging buite die SAUK­-kantore mag berig nie. Hy het gesê hy stem nie daarmee saam nie.

“Om bloot te sê dat jy nie met iets saamstem nie, is nog lank nie ’n fireable offence nie,” sê ek. Min weet ek ...

30 Junie 2016:

Dis die oggend van die betogings buite verskillende SAUK-kantore. In Auckland Park, Johannesburg, is ons span gereed om ons by die ander joernaliste en burgerregte­organisasies aan te sluit en aan die protesoptog deel te neem.

Maar halfses die oggend – ’n halfuur voordat ons die land moet groet – bars alle hel op kantoor los. Baie mense is nou vreesbevange dat hulle hul werk kan verloor.

Dieselfde oggend dien ek my bedanking by die SAUK in.

Ek het al enkele dae vroeër ’n ander aanbod aanvaar, maar soos die noodlot dit wil hê, maak spanning by die SAUK my besluit net makliker.

Teen middagete is ek in trane – darem in my eie bed.

* As jy 'n bydrae wil lewer: 'n Fondsinsameling vir die afgedankte SAUK-joernaliste is Dinsdag op die skarebefondsingswebwerf generosity.com begin, met ’n mikpunt van $6 000 (sowat R86 000).

Meer oor:  Sauk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.