Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
H&M-baas sê 'jammer'; beplan 6 nuwe winkels in SA

Rassisme is nie deel van H&M se DNS nie, sê Pär Darj, die Sweedse kleregroep se bestuurder vir Suid-Afrika.

Darj het ’n aantal maatreëls aangekondig wat plaaslik ingestel gaan word ná gewelddadige betogings by sy winkels in Gauteng en die Wes-Kaap wat met vandalisme en plundering gepaard gegaan het.

’n Geplunderde H&M-winkel in Menlyn, Pretoria.Foto: Twitter

’n Advertensie vir H&M se aanlynwinkel, waarin ’n swart kind in ’n sweetpakbaadjie met die slagspreuk “Coolest monkey in the jungle” verskyn, het tot die betogings gelei.

Darj sê H&M het na konsultasie met die Ahmed Kathrada-stigting, Instituut vir Geregtigheid en Versoening (IJR), die departement van ekonomiese ontwikkeling en die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) besluit om meer te doen teen rassisme.

Die Sweedse ambassade in Suid-Afrika en die Teenrassisme-netwerk van Suid-Afrika (ARNSA) sal volgende week saam met H&M ’n werkswinkel aanbied waartydens die reaksie op die advertensie bespreek sal word.

H&M het ook onderneem om ’n hoof vir volhoubaarheid en transformasie in Suid-Afrika aan te stel. Sy topbestuurders in Suid-Afrika sal deur ’n gespesialiseerde organisasie oor rassekwessies in die land opgelei word en plaaslike werknemers sal opleiding oor diversiteit ontvang. Sy Sweedse bemarkingspan sal voortaan met plaaslike swart agentskappe werk in belang van verantwoordelike bemarking.

Hulle wil ook langtermynbande met Suid-Afrikaanse ondernemings vorm, wat moontlik Suid-Afrikaanse produkte aan H&M kan lewer.

Die maatskappy oorweeg samewerkingsooreenkomste met Suid-Afrikaanse klereontwerpers en wil werksgeleenthede in die land skep.

Die baadjie waaroor H&M in die moeilikheid is. Foto: Skermgreep

Hy wil vanjaar ses nuwe winkels in Suid-Afrika oopmaak – wat 300 werksgeleenthede sal skep.

Darj sê H&M het sekuriteit by sy winkels ná die vandalisme verskerp om klante se veiligheid te verseker en al die groep se winkels is oop en funksioneer gewoonweg.

“Ons weet ons het baie mense teleurgestel en vra om verskoning vir die pyn en vernedering wat veroorsaak is. Ons posisie is duidelik: ons het gefouteer en ons is inniglik jammer.”

Darj sê H&M gaan elke moontlike stap doen om rassisme en vooroordeel in sy maatskappy uit te roei en het reeds wêreldwyd stappe gedoen om seker te maak geen onsmaaklike produkte word ooit weer onder sy naam vervaardig nie.

Meer oor:  H&M  |  Jammer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.