Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
‘Hoe groet ’n pa dogter wat so skielik weggeneem word?’

“As pa kon ek Vrydag op my 73ste verjaarsdag vir die Here my mooiste geskenk gee. Ek kon my dogter Anrike Viljoen op haar roudiens vir hom teruggee.”

Groot hartseer. Naasbestaandes het die Bloemfonteinse sakevrou, Anrike Viljoen (49), Vrydag gegroet. Hier is haar begrafnisbrief wat by die kerk uitgedeel is. Foto: Mlungisi Louw

So het ’n aangedane Phanus Zondagh, voormalige Bloemfonteinse ontwikkelaar van SCZ Eiendomme, in die begrafnisbrief en aan vriende in die volgepakte Love One Another Ministery in Noordhoek, Bloemfontein, gesê.

Die 49-jarige Viljoen is Sondagaand op die Phi-Phi-eiland in Thailand dood toe sy gegly en met haar agterkop op ’n rots by die see geval het.

Sy en haar man, Herman, het dié aand op sy 50ste verjaarsdag langs die see gaan stap. Wat ’n eksotiese vakansie ter viering van Herman se 50ste verjaarsdag moes wees, het in ’n nagmerrie verander.

Phanus vra hoe groet ’n pa ’n lieflingdogter wat so skielik weggeneem word? So finaal?

“Anrike, hoe graag sou ek eerder vandag ’n verjaarsdagdrukkie wou gehad het as om jou te groet. Jy laat nie ’n gat nie, maar ’n donga.”

Zondagh het vir sy dogter met die “goue lokke en die vriendelike glimlag” ’n gedig van Totius aangehaal:

O die pyn-gedagte: My kind is dood!

dit brand soos ’n pyl in my.

Die mense sien daar niks nie van,

en die Here alleen die weet wat ek ly.

Die dae kom en die nagte gaan

die skadu’s word lank en weer kort...

Anrike se ma, Lettie, het gegroet deur te sê: “My liefste kind, my hart is so stukkend en seer, maar ek lê jou by ons Meester se voete neer. My besige bytjie jy het altyd alles op ’n galop gedoen. Nooit stadig nie. My liewe kind, jou lewenspaadjie was nie altyd maklik nie. Maar jy het gedoen wat jy moes.

Blommeprag. Blomme met proteas en ’n foto van Anrike Viloen (49), Bloemfonteinse sakevrou wat in Thailand dood is, staan voor in die kerk. Foto: Mlungisi Louw

“Liefde het nooit ontbreek nie. Voor die vlug toe jy groet, het jy gesê jy is moeg en dat jy net die hele pad wou slaap, en nou het die Here jou vir ewig kom haal.”

Hannelie Huysamen, Anrike se suster, het gesê: “Anrike was ’n boom geplant by lewende water by wie ons almal kom skuil het. Die boom het saad geword en ons vra die Here om die saad water te gee sodat dit ’n oerwoud word. “Ek wil ook vra dat dit wat sy vir almal was, hetsy ’n vriendin of ’n steunpilaar, dat hulle dit ook vir een iemand anders sal gaan word.”

Die kinders en kleinkinders het ook hul hartseer huldeblyke in die kerk voorgelees en haar geloof “as die beste mamma en beste ouma wat ’n mens ooit van kan droom om te hê”.

Die gedenkdiens is deur Ebrahim (Eby) Kordom gelei en sy teksvers was uit Joh. 3:16: “God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste seun gegee het . . .”

Familie ondersteun. Van die familielede by die begrafnis van Anrike Viljoen, Bloemfonteinse sakevrou, is van links Johané (11), kleindogter, Marike Bridge, dogter, Herman Viljoen, man, Lettie Zondagh en Hannelie Huysamen, suster wat na die kamera kyk, met Marié Meyer, met haar rug na die kamera wat haar ondersteun. Foto: Mlungisi Louw
Phanus Zondagh word by die kerk ondersteun deur familie by die gedenkdiens vir sy dogter Anrike Viljoen. Marinda Anker, ’n familielid gee hom ’n drukkie. By hulle is haar man, Koos Anker. Heel links op die foto is een van Anrike se skoonseuns, Jeff Bridge. Foto: Mlungisi Louw

Hy het Anrike ook geloof as “iemand met altyd ’n glimlag op die gesig wat met ’n boek vol oplossings vir elke probleem regstaan”.

“Toe ons wonder wie gaan ons help om die planne van ons kerk in die hande te kry, staan sy binne 12 uur daarmee in die hand,” het hy gesê.

“Ek het gou geleer as jy iets in Bloemfontein gedoen wil hê, bel jy vir Anrike. Sy ken die hele wêreld en sy was ’n vrou met integriteit en groot statuur.”

Die familie het ook hul dankbaarheid teenoor Herman betoon vir alles wat hy oor 33 jaar vir Anrike gedoen het en ook op die Phi-Phi-eiland waar hy haar te midde van sy pyn en hartseer nooit verlaat het nie.

Herman was te hartseer om self te praat.

Meer oor:  Bloemfontein  |  Thailand  |  Begrafnis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.