Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Hoe kom slang in man se lessenaarlaai?

Terwyl ’n sakeman van Graaff-Reinet nog in die waakeenheid van ’n Baaise hospitaal behandel word nadat ’n kobra hom gepik het, bly dit ’n raaisel hoe dié slang in sy kantoor beland het.

Johan (Gerrie) Germeshuizen (63) het Maandagmiddag in sy kantoor niksvermoedend sy hand in sy lessenaarlaai gesteek toe ’n Kaapse kobra hom op sy vinger gepik het.

Germeshuizen se lessenaar is in die ontvangslokaal van sy werkplek by AF van der Berg & Seun op Graaff-Reinet. Dit is tans nog onverklaarbaar waar die slang vandaan gekom het of hoe dit in die laai beland het. Sy kollegas en familie wil ook nie hieroor bespiegel nie.

Die vooraansig van Gerrie Germeshuizen (regs) se werkplek op Graaff-Reinet.Foto: Elsabé Pienaar

Dit is nie ongewoon om ’n Kaapse kobra, wat ook ’n geelslang of koperkapel genoem word, in die Oos-Kaap aan te tref nie.

Die slang kom ook wydverspreid in die Wes- en Noord-Kaap voor, sowel as in Noordwes, Namibië, Botswana en die westelike deel van Lesotho.

Al skuil Kaapse kobras meestal in molsgate of onder blare, sê ’n Oos-Kaapse slangkenner Mark Marshall, is hulle baie aktiewer op warm somersdae, wanneer hulle koelte opsoek en só maklik in huise beland. Daar is egter geen plantegroei aan die vooraansig van die gebou waar Germeshuizen in die dorp se nywerheidsgebied werk nie

Foto: Facebook

’n Geelslang se byt is uiters giftig en tas die slagoffer se senuweestelsel, hart en asemhaling aan. “Die korrekte identifikasie van ’n slang speel ’n deurslaggewende rol in die sukses-volle behandeling van ’n slag-offer,” het Marshall tydens ’n onlangse slangkursus en demonstrasie op Graaff-Reinet gesê. “ ’n Vinnige selfoonfoto van ’n slang kan mediese personeel in staat stel om onmiddellik die regte protokol te volg, wat die verskil tussen lewe en dood kan beteken.”

Germeshuizen is onmiddellik nadat hy gebyt is na die plaaslike Midland-hospitaal gehaas.

Foto: Verskaf

Hy is Dinsdag in die vroeë oggendure van Graaff-Reinet na die Livingstone-hospitaal in Port Elizabeth oorgeplaas en later die dag na die Life Mercantile-hospitaal se waakeenheid.

Sy suster, Thelina Geater, het gesê sy toestand was Woensdagmiddag nog kritiek maar stabiel. Hy kon net sy voet beweeg om te wys hy registreer as mense met hom kommunikeer.

Teen gisteroggend het sy toestand genoeg verbeter dat dit nie meer nodig is om hom te verdoof nie en teen laatmiddag was sy oë na verneem word oop en kon hy reageer wanneer daar met hom gepraat word.

Die slang wat Germeshuizen gepik het, is ná die voorval van kant gemaak.

Kapt. Bradley Rawlinson van die plaaslike polisiekantoor sê daar is tans geen ondersoek na die voorval nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.