Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
‘Hoë omset van senior personeel skadelik’

Die regering moet die aanstelling van senior amptenare in die staatsdiens heeltemal hersien, en direkteurs-generaal (DG’s) moet hul poste op ’n permanente grondslag beklee.

Tito Mboweni, minister van finansies, ontvang die verslag van die Drakensberg Forum van mev. Gugu Motlanthe, vrou van oudpres. Kgalema Motlanthe (links). Foto: VERSKAF

Dit is een van die aanbevelings van die “inklusiewe groeiforum”, ’n byeenkoms van politici, sakelui en leiers van nieregeringsorganisasies wat verlede jaar deur die stigting van oudpres. Kgalema Motlanthe in die Drakensberge gereël is.

Pres. Cyril Ramaphosa, wat die openingstoespraak by die naweeklange vergadering in Junie verlede jaar gehou het, sou Woensdagaand ’n verslag oor die forum se werksaamhede in ontvangs neem, maar hy het Tito Mboweni, minister van finansies, gestuur om dit namens hom te doen.

Die verslag sê onder meer ’n deursigtige werwings- en aanstellingsproses is nodig ter wille van doeltreffendheid in die staatsdiens en om ’n vermoënde staat te skep.

Motlanthe het Woensdagaand by ’n geleentheid in Sandown, Johannesburg, gesê die wet gee tans die mag aan die president om DG’s en hul adjunkte aan te stel.

Onderhoude geskied dikwels sonder deursigtigheid en mense word kragtens kontrak aangestel. Die verslag beveel aan dat die Staatsdienskommissie kundiges en ervare werwingspraktisyns kry om kandidate vir senior poste te keur, wat dan op ’n permanente grondslag aangestel moet word.

“Ons moet ook die staat verstaan as ’n permanente entiteit. Regerings kom en gaan, maar die staat moet vermoënd en doeltreffend wees met institusionele geheue. As daar ’n hoë omset van senior personeel is, kry jy ’n onstabiele staat.”

Motlanthe het gewys op die eksperimentering met uitkomsgebaseerde onderwys in die jare rondom 2005 en gesê dit het ’n vernietigende uitwerking gehad, veral op swart onderwys.

Hy het onderwys en klimaatsverandering as twee prioriteite uitgesonder.

“Of ons dit wil weet of nie, ons moet in onderwysersopleiding belê. As ons misluk, gaan ons agtergelaat word.”

Voorts herinner die natuur mense dikwels wie is eintlik in beheer, het hy gesê. “Ons dink ons is in beheer, maar ons is maar klein hondjies in die heelal,” het hy gesê.

Meer oor:  Regering  |  Poste  |  Aanstelling  |  Staatsdiens
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.