Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
‘Hoekom ek?’ vra jong man ná nekskote

Francois Swart (21) begin nou die trauma besef waardeur hy gaan sedert hy verlede Woensdag in ’n rooftog in Lichtenburg, Noordwes, in die nek geskiet is.

“Hy onthou alles en vra: Hoekom ek? Hoekom ek?’’ het sy ma, Christie van Rooyen, Woensdagoggend gesê.

“Wanneer ek vir Francois sê hy moet veg, want hy is sterk, skud hy net sy kop.”

Francois Swart is in ’n kritieke, maar bestendige toestand in die hospitaal nadat hy deur ’n rower met ’n gaspistool geskiet is. Foto: VERSKAF

Swart, ’n bestuurder by die Laguna Spur in Lichtenburg, is omstreeks 02:00 verlede Woensdag twee keer op ’n kort afstand met ’n gaspistool in die nek geskiet. Hy en ’n kollega, Jan Louw, was op pad huis toe van die restaurant af toe hulle by ’n vulstasiewinkel stilgehou het om koeldrank te koop. Daar het hulle hul in ’n rooftog vasgeloop.

Een van die vermeende rowers is in hegtenis geneem en het reeds in die hof in Lichtenburg verskyn. Louw se gesteelde voertuig is ná die rooftog teruggekry.

Swart is ná die skietery vanaf die Mahikeng- provinsiale hospitaal na die Chris Hani Baragwanath-hospitaal in Soweto oorgeplaas. Daar het hy ’n operasie van agt uur ondergaan om die skade wat een van die koeëls aan sy slukderm veroorsaak het te herstel. Hy sal moontlik ook binnekort ’n prosedure ondergaan om ’n aneurisme wat in een van sy nekare ontstaan het te behandel.

Van Rooyen sê haar seun kan darem nou praat sedert die asemhalingspyp uit sy keel gehaal is.

“Sy stem is nog baie skor, maar ons hoop dit herstel binne die volgende paar weke.”

Swart kry nog voeding deur ’n buis in sy neus en word steeds in die hoësorgeenheid versorg. Van Rooyen is vol lof vir die traumapersoneel wat hom behandel.

Swart het in Pretoria grootgeword en skool gegaan. Hy het sowat ses weke in Lichtenburg gewerk toe die rooftog plaasgevind het. Van Rooyen sê Swart droom al van sy laerskooldae daarvan om ’n restaurant te besit.

Meer oor:  Francois Swart  |  Lichtenburg  |  Nekskote  |  Hoekom Ek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.