Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Hoekom Hester vir Hentie groet

Boer Hentie van Boer soek ’n Vrou het ’n eenvoudige toets gedop: Hester Fourie wou gehad het hy moes haar ophelp teen ’n klip, maar hy het nie.

Hester Fourie het vandeesweek met Rapport gepraat by haar meenthuis in Randburg nadat geskokte kykers Donderdagaand op Boer soek ’n vrou gesien het hoe sy boer Hentie se wind uit sy seile gehaal het. Foto: Deon Raath

En dis toe sy finaal besef het sy moet liewer huis toe, het Hester aan Rapport onthul. Ná twee egskeidings was Hester eenvoudig net te bang om weer haar kop te stamp. Daarom het die skooljuffrou uiteindelik besluit om na haar hart te luister en boer Hentie te groet nog voordat sy geweet het of hy haar van die plaas af wil stuur of nie.

“Dit was nie ’n halsoorkop­besluit nie. Iets het nie reg gevoel nie en ek was bang dat hy dalk verlief sou raak op my. Hy het gesê hy sal so gou as moontlik ’n vrou in die huis wou hê en ek was nie gereed om sak en pak na sy plaas toe te trek nie,” het Hester (52) die afgelope week aan Rapport gesê in haar meenthuis in Randburg. Sy en haar jongste dogter het onlangs hier ingetrek omdat dit nader is aan die Hoërskool Randburg, waar Hester Afrikaans gee vir gr. 11’s en 12’s.

Kykers van Boer soek ’n vrou op kykNET het Donderdagaand gesien hoe Hester vir boer Hentie (51), ’n plaasbestuurder van ’n rooibosteeboerdery in Clanwilliam in die Wes-Kaap, sê sy wil dadelik huis toe. Hy sou eers in die volgende episode moes kies tussen Hester en Hantie, die ander vrou wat om sy aandag meeding. In Donderdag se episode het elke boer ’n afspraak gehad met die twee deelnemers wat nog op hul plase is.

‘Iets het nie meer reg gevoel nie.’

Omdat Hester onseker gevoel het voor die afspraak, het sy besluit om boer Hentie te “toets”.

“Dit was net ’n klein dingetjie. Ons het geloop na die plek waar ons gaan sit en gesels het en ek het my arm uitgereik dat hy my by ’n klip kan ophelp, maar in pleks van te help, het hy net aangeloop. Ek het sy liggaamstaal ook as baie ‘toe’ ervaar terwyl ek ‘oop’ was. Ek is ’n kontakmens en het besef ek moet luister na my vroulike intuïsie.”

Ná die afspraak het sy ’n lang ent op die plaas gaan loop en toe besluit om haar instink te vertrou en huis toe te gaan.

“Ek het net so verlig gevoel. Daardie iets wat my moes oortuig om bereid te wees om my lewe in Randburg op te gee en sak en pak plaas toe te trek met my meisiekind (haar jongste dogter, wat 15 jaar oud is), was net nie daar nie,” sê sy.

“Ek weet ek het hom seergemaak. Daar was ’n groot spark tussen ons twee, maar iets het nie meer reg gevoel nie.

Hester (middel) het Donderdagaand vir boer Hentie totaal onkant gevang in Boer soek ’n vrou (kykNET) toe sy vir hom gesê het sy wil graag huis toe gaan. Hier sit hulle om sy tafel terwyl die program aanbieder, Leah, toekyk. Foto: Skermgreep

“Ek het nog nie die episode gekyk nie. Ek is bang dit maak my dalk weer hartseer. In ’n goeie verhouding moet jy mekaar volkome vertrou. Dis wat ek bedoel het toe ek op die program gesê het ek wil geen man oppas nie. Ek weet ook hoe dit voel om ’n trophy wife te wees . . . Wanneer mans saam met jou wil wees net om jou af te show,” sê Hester.

“Ek kom agter dat dit nogal ’n ding raak as ’n mens ouer word. Ek het nog altyd geoefen en landloop afgerig en gesorg dat ek gesond is en goed lyk, terwyl mans minder moeite doen en geneig is om net agteroor te sit en jou as trofee aan hul sy wil hê wanneer dit hulle pas.” Sy sê sy het nie die indruk gekry dat Hentie ook so is nie, maar haar ervarings het veroorsaak dat sy sukkel om haar hart weer oop te maak.

Dit het boonop gevoel of die aanvanklike vonk wat daar tussen hulle was, verdwyn het.

Sy verstaan nie waarom Hantie ná die tyd gesê het sy voel “verraai” deur Hester wat vroegtydig geloop het nie. “Ek dink Hentie en Hantie pas beter bymekaar. En ek het dit vir hom en haar gesê toe ek hulle gegroet het. Ek en Hantie het eers lekker saam gehuil voordat ek daar weg is.”

  • Boer soek ’n vrou wys Donderdagaande om 20:00 op kykNET.
Meer oor:  Boer Soek 'N Vrou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.