Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Hoekom is dit ’n stryd om bankie vir held-pa te kry?

Die dogter van ’n oudonderwyser wat in die see by Kampsbaai verdrink het toe hy ’n vyfjarige kind wou red, moes lank wag om toestemming van die Kaapse metro te kry om ’n gedenkbankie vir haar held-pa op te rig op die plek waar die tragedie op 4 Januarie 2018 gebeur het.

Mangoyi Mgoqi en haar ma, Nokwanda (links), het Saterdag vir die eerste keer weer Maiden’s Cove besoek. Foto’s: Edrea du Toit

Mangoyi Mgoqi sê sy is ontsteld dat sy so lank op ’n antwoord moes wag.

Lilumko Mgoqi, ook bekend as Solly, was ’n 60-jarige oudgeskiedenisonderwyser en vakadviseur.

Op die rampdag was hy, sy vrou, Nokwanda, en hul driejarige kleinkind by Maiden’s Cove, ’n gewilde en prentjiemooi plek onder branderplankryers, toe hy sien hoe ’n sleurstroom vir Jemma Brink (5) vat.

Mgoqi het sonder huiwering agter Jemma ingeduik. Ook Jemma se pa, Warren, is agterna.

Silumko Mgoqi Foto: Verskaf

Maar die water was soos ’n “tuimeldroër”, het Brink agterna gesê, en Mgoqi was gou in die moeilikheid. ’n Branderplankryer het Jemma op sy plank gelig en uit die water gehaal – maar die branders het Mgoqi teen die rotse gegooi en hy het verdrink.

Sy dogter het in Julie 2018 kuslangs ’n bankie gesien en besef dís hoe haar pa en sy heldedaad onthou kan word. Sy het lank gewag. “Ek was rug teen die muur. Daar was geen rigting nie en dit was frustrerend om nie terugvoering te kry nie.”

Jemma se ma, Evadne Brink, het gister aan Rapport gesê Mgoqi is hul held.

“Hier geniet Jemma weer die see, iets wat sy veronderstel is om te haat, want iemand het die moed gehad om haar die voorreg van lewe te gee.”

Evadne en Warren Brink by Jemma (toe vyf) kort ná die voorval.

Brink bid vir mooi uitkomste vir die Mgoqi-familie en dat die stadsowerhede sal ingryp. “Mnr. Mgoqi het ’n onuitwisbare merk op die hart en lewe van baie gelaat. Sekerlik is hy dit werd om as ’n held vereer te word.”

Die Kaapstadse burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsdienste en gesondheid, Zahid Badroodien, het by navraag gesê Mgoqi se aansoek vir die bankie kon nie deur sy departement goedgekeur word nie omdat die gekose plek vir die bankie in ’n padreserwe val. Sy departement het ’n grasbedekte gebied langs die Kampsbaaistrand geïdentifiseer “waar ’n gedenkbank opgerig kan word”.

Mgoqi moet aansoek doen vir ’n permit, wat R2 100 kos.

Badroodien sê baie families het al suksesvol aansoek gedoen om gedenkbanke langs die kus op te rig. Dié banke word op die familie se onkoste en in samewerking met die stad opgerig, wat onder meer moet toesien dat die regte materiale gebruik en die bankie onderhou word.

Meer oor:  Kampsbaai  |  Heldedaad  |  Huldeblyk  |  Redding  |  Verdrinking
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.