Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Jooste se 'groot gat': Mense wil hof toe oor strandtoegang
Markus Jooste Foto: Argief

’n Moontlike hofsaak dreig oor die onderverdeling van Markus Jooste se “groot gat”, oftewel erf 12257 in Eastcliff, Hermanus, nadat die munisipaliteit ’n onderverdeling goedgekeur het sonder ’n voorwaarde dat daar ’n voetpaadjie voor die huis kom sodat mense by die see kan uitkom.

Plaaslike inwoners probeer sedert 2017 om toegang te bewerkstellig en het as deel van die proses van openbare deelname, toe die voorneme van onderverdeling gepubliseer is, hul insette gelewer.

Lede van die Cliff Path Action Group, sê dit was ’n geleentheid vir die munisipaliteit om dit moontlik te maak om die bestaande voetpad te verbind sodat lede van die publiek die volle 12 km teen die see kan stap.

Sonder toegang beteken dit ’n mens moet byna ’n kilometer ver agterom die huise in die besige hoofpad stap om by die ander deel van die kuspad uit te kom. Baie toeriste sien nie daarvoor kans nie en draai dan eerder terug. Dié deel van die kusgebied waar daar geen toegang is nie, is reg voor Markus Jooste se eiendom.

Agtergrond

Die uitsig oor die bestaande getypoel en die voorstelling van die voetpad in die westelike rigting voor erf 1233. Foto: Cliff Path Action Group

Erf 12257 was deel van ’n groter erf, 1233, wat in 2013 in drie erwe onderverdeel is. Twee van dié erwe is deur Jooste gekoop en in erf 12257 gekonsolideer.

Jooste, voormalige uitvoerende hoof van Steinhoff, het op die erf begin bou, maar die bouwerk is gestaak nadat hy in Desember 2017 as uitvoerende hoof van Steinhoff bedank het.

Jooste het ’n toe ’n muur rondom die erf gebou wat mense keer om die kus voor die eiendom te bereik.

In September 2018 het Coenie Groenewald, munisipale bestuurder van die Overstrand-munisipaliteit, gesê die bouperseel moet gerehabiliteer word.

’n Aansoek is by die munisipaliteit ingedien om die erf weer te onderverdeel, moontlik om dan te verkoop. Dit is nie duidelik uit die aansoek of dit Jooste self is wat dit ingedien het nie.

Proses

Die uitsig van die oostelike deel van die voetpad voor erwe 5492/5492. Foto: Cliff Path Action Group

In Mei 2019 het die munisipaliteit egter ’n openbare kennisgewing uitgereik waarin hulle die gemeenskap se insette vra oor die onderverdeling van die erf. Die sluitingsdatum vir die deelnameproses is 24 Mei.

Die Cliff Path Action Group, wat onder meer uit lede van die gemeenskap bestaan, beywer hulle sedert 2017 daarvoor om die voetpaadjie uit te brei.

Hulle wil ’n 12 km lange voetpad langs die kus voltooi. Dit sal van die nuwe hawe tot by Grottobaai strek.

Die onderverdeling het die munisipaliteit die geleentheid gebied om die Wet op Geïntegreerde Kusbestuur toe te pas en toegang in die vorm van ’n servituut vir voetgangers ’n voorwaarde vir die onderverdeling te maak.

Vandag

Die suidwestelike uitsig van die bestaande getypoel en voorgestelde voetpad. Foto: Cliff Path Action Group

Die proses is intussen afgehandel. As deel van die proses kon die Wes-Kaapse regering se departement van biodiversiteit en kusbestuur ook hul insette oor die aansoek lewer.

In die korrespondensie het hulle gesê die muur verhoed toegang tot die kus en dat dit reggestel moet word voordat die onderverdeling goedgekeur word. Een van die doelwitte van die wetgewing is om vir die publiek toegang tot die kus te gee. Dit is ’n strafregtelike oortreding om dit nie te doen nie. Die departement het die aanbeveling aan die Overstrand-munisipaliteit gestuur.

Op 10 September het dié munisipaliteit ’n kennisgewing uitgestuur aan partye wat deel was van die proses.

In die korrespondensie sê Steven Müller, hoof van die departement van infrastruktuur en beplanning, die munisipaliteit het nie die mag om toegang tot die voetpaadjie aan die publiek te gee nie.

Die Cliff Path Action Group kan teen dié bevinding appelleer en sê as die kwessie meer gekompliseerd raak, sal hulle nie huiwer om die hof te nader vir ’n bevel om toegang te kry vir die publiek nie.

Meer oor:  Markus Jooste  |  Hermanus  |  Erf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.