Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Hond betaal met lewe toe hy gesin red
Uba een jaar met Kersfees.

Van die eerste dag dat ’n jong pitbull by Elisia Lee (37) se huis opgedaag en uit die voertuig in haar arms gespring het, het sy geweet hy is vir haar familie bedoel.

Daardie aand het hy 12 braaibroodjies van haar kombuistafel af gesteel, asook ook haar hart.

Maar bykans twee weke gelede moes die Lee-gesin afskeid neem van hul geliefde Uba wat hulle drie jaar gelede aangeneem het.

Uba het op 16 Augustus heel waarskynlik sy mense se lewens gered toe hy ’n swart mamba op die plaas in Komatipoort, Mpumalanga, doodgebyt het. Die slang het hom egter in die proses gebyt en Uba is ’n rukkie later dood.

Hy was so vyf jaar oud.

Pa, Hennie (37), en sy dogters, Levai (10) en Lucha (6), het die middag die buitekamer reggepak toe Uba wankelrig om die hoek aangeloop kom met skuim wat by sy mond uitborrel.

“Ons het dadelik geweet ’n slang het hom gebyt,” sê Elisia.

Elisia Lee en haar geliefde Uba. Dié pitbull was altyd baie liefdevol. Hy is onlangs dood nadat ’n slang hom gebyt het.

Hulle het onmiddellik met hom veearts toe gejaag, maar Uba is sowat tien minute later dood.

Terug by die huis het die gesin hul hond op die plaas begrawe en klippies op die plek gepak.

Eers later is afgekom op die swart mamba van sowat 2 m lank wat in stukke verskeur is – net om die draai van waar Hennie en die kinders doenig was in die buitekamer.

“Ek glo met my hele hart Uba het ons daai dag beskerm teen iets wat bitter lelik kon verloop as daai slang by my kinders uitgekom het. Hy het glad nie eens geblaf nie – hy het net gedoen wat hy moes om sy familie te beskerm en so sy eie lewe ook verloor,” sê Elisia.

Die gesin het Uba by Underdogs SA Pitbull Rehabilitation Center in Pretoria aangeneem toe hy so twee jaar oud was en was sedertdien soos ’n kind in die huis.

“Hy het saam met ons kinders in die huis grootgeword en was elke oggend saam met ons in die bed. Hy het gehou van cuddle – hulle is eintlik soos marshmallows.”

Elisia beskryf vir Uba as ’n goeie ambassadeur vir hierdie honderas wat “die meeste verkeerd verstaan word.”

“Hy was só ’n mooi voorbeeld van hoe pitbulls regtig is.”

In ’n brief wat sy vir hom geskryf het, sê sy: “Uba – jy het met jou oë geglimlag, met jou stert gelag en met jou hart liefgehad.”

Die gesin het nog ’n pitbull, Blake, en ’n Jack Russell, Nala, wat die eerste paar dae na Uba se dood na hom gesoek het. Hulle het ook ’n kat, Keno, wat as baba bo-op Uba gelê het.

“Ek mis alles van hom, maar die meeste mis ek sy groot hart. Hy het soveel mense se idee oor pitbulls verander met sy liefdevolle omgee-persoonlikheid.”

Meer oor:  Uba  |  Pitbull  |  Swart Mamba
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.