Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Hond gered ná skoot in plundery

’n Groot hond wat in die nag deur vlugtende plunderaars geskiet is, het soveel bloed verloor dat dit vermoedelik net brute wilskrag en die desperate noodhulppogings van sy eienaars is wat hom die nag laat oorleef het.

Master lê op die operasietafel waar die eerste stap was om die bloeding uit die skietwond te stop. Foto: Verskaf

Master was so verswak dat hy nie eens geknor het toe Ben Khuzwayo van The Dogs Trust hom die volgende oggend soos ’n baba in sy arms opgetel het nie.

“Dit was nie eens nodig om hom in die hondehok in die voertuig te sit nie. Ek het net komberse om hom gepak vir gemak en troos.

“En toe ‘vlieg ek laag’ terwyl ek dink hierdie hond gaan enige oomblik vrek,” sê hy.

Khuzwayo bly in die Diepsloot-township naby Johannesburg, waar hy diere in nood help.

Woensdagoggend het hy ’n desperate oproep gekry: Oproeriges het in die nag ’n hond se poot byna weggeskiet.

“Master was in sy erf toe mense wat die winkelsentrum in Diepsloot wou plunder, deur die polisie verjaag is. Hulle het blykbaar al skietende weggehardloop.

“Dit klink my hulle het sommerso in die vlug hul woede op die hond uitgehaal en hom geskiet,” sê Khuzwayo.

Die eienaars het die hond gehoor tjank en Master met ’n gapende gat in sy regtervoorpoot aangetref waar die koeël die vleis uitgeruk het.

Hulle kon dit nie waag om te gaan hulp soek nie, en moes eers rondvra voordat iemand Khuzwayo se nommer aan hulle gegee het.

Intussen het hulle die bloeding probeer keer en die wond verbind.

Die groot hond skep asem nadat die are in sy voorpoot tydens ’n noodoperasie afgebind is. Foto: Verskaf

“Dit was ’n hartseer gesig toe ek daar aankom. Ek het die Society for Animals in Distress (SAID) gebel en gesê ek is op pad met ’n skietwond-slagoffer,” sê Khuzwayo.

Toe jaag hy na die dierewelsynorganisasie in Midrand.

Marizda Kruger van SAID sê hulle het Master direk uit Khuzwayo se voertuig na die teater gehaas vir ’n noodoperasie.

“Die hele hoofaar in die poot is afgeskiet. Ons eerste doel was om die bloeding te stop, want die hond was omtrent leeg gebloei. Dit was verskriklik.

“Die hond se eienaars moet baie erg oor hom wees. Hulle het ’n drukverband om daardie wond gebind om die bloeding te vertraag terwyl hulle hulp gesoek het,” sê sy.

Dit het ’n twee ure lange operasie geverg om elke beskadigde aartjie te vind en af te bind.

Die flarde-wond sou Donderdag toegewerk word.

Gedurende die operasie het die SAID-span gesien dat die hele senuwee-netwerk in die poot vergruis is, sê Kruger.

Master sou nie weer daardie poot kon gebruik nie.

Dit moes óf geamputeer word óf Master moes uitgesit word.

Terwyl die hond op die operasietafel gelê het, het Kruger vir Khuzwayo gebel om die eienaars te kontak oor die besluit.

Master word voorberei vir die amputasie van sy voorpoot. Foto: Verskaf
Ben Khuzwayo van The Dogs Trust het Master so aangetref en die foto vir Marizda Kruger van die Society for Animals in Distress geneem sodat sy kon sien wat om te wagte te wees. Foto: Ben Khuzwayo

“Toe antwoord hulle ons moet amputeer, solank ons net hul hond red en hy kan huis toe kom,” sê Kruger.

Sy skat Master sal binnekort genoeg herstel om te kan huis toe gaan. The Dogs Trust sal gereeld huisbesoek doen om die hond se herstel te monitor.

“Die onluste het net so ’n angswekkende impak op diere en talle word in die kruisvuur gevang. Mense soos Ben waag hul lewe om die diere te gaan help,” sê Kruger.

Sy voeg by dat Master baie getraumatiseerd is.

“Maar hierdie groot hond wat so kwaai voorkom, moet ’n hengse naby-verhouding met sy eienaars hê vir hulle om hom midde-in die onluste met ’n stywe drukverband te probeer red, en vir Master om dit in daardie pyn toe te laat.”

Meer oor:  Diepsloot  |  Johannesburg  |  Plundery En Geweld  |  Gered
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.