Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Hond lei haar nooi in saal vir kanker

Sewe maande gelede het ’n labrador-gidshond, Dale, bygestaan toe haar baas geboorte gegee het in die Life Hilton-hospitaal in KwaZulu-Natal.

Otillia Wigley met haar gidshond, Dale, toe Otillia Donderdag ’n CT-skandering ondergaan het.

Nou is Dale al gekonfyt met hospitaalgange, want sy lei haar baas, Otillia Wigley, gereeld na die Hopelands-kankersentrum in Hilton.

Die baba, Elodie, is op 20 September verlede jaar gebore. Twee maande daarna is choriokarsinoom, ’n seldsame en aggressiewe soort kanker, by Otillia gediagnoseer. Dit ontstaan in die buitenste membrane (chorion) wat die fetus omsluit. Die gewas versprei vinnig na die longe.

Otillia gebruik ’n gidshond omdat sy as jong kind oogskade begin opdoen het weens Stargardt se siekte. Sy maak weens haar swak sig ook sterk staat op haar gehoor, maar die chemoterapie het nou haar gehoor beskadig.

Otillia sê haar ginekoloog het met die nageboorte-ondersoek die vergroeisel in haar baarmoeder raakgesien.

Ek het vir omtrent twee dae in die waaksaal gehuil.

Die kanker is daarna gediagnoseer. “Dit het toe reeds na my longe en ruggraat versprei.”

“Hulle het my die Saterdag gediagnoseer en ek is onmiddellik in die waaksaal opgeneem. Ek moes totsiens sê vir David (haar man), Elodie en Dale. Die volgende dag het ek my eerste chemo gekry.

“Ek het vir omtrent twee dae in die waaksaal gehuil. Dit was vir my ’n verskriklike groot skok. Ek het dit glad nie verwag nie, want ek is rêrig ’n baie gesonde tipe mens.”

Sy het daarna agt chemosessies in die kankersentrum gekry waarheen Dale kon saamgaan. “Dale het haar gewone werk gedoen. Sy het my rondgelei, in en uit. Sy het al geweet waar die kamer is, sy het my direk soontoe gevat.

“Ná my sesde behandeling het my gehoor met ongeveer 20 desibels verswak. Ek kan klein verskille agterkom omdat ek so afhanklik is van my gehoor. Byvoorbeeld, ek luister altyd vir die klank van ons kompleks se hek wanneer ek iemand in- of uitlaat omdat ek nie so ver kan sien nie. Dit was altyd vir my maklik ten spyte van die buurman se grassny-lawaai. Nou moet ek regtig konsentreer om dit te hoor.”

Otillia Wigley kry chemoterapie met Dale, haar gidshond, aan haar sy. Foto: Verskaf

Sy het ook tinnitus opgedoen.

“Ek was ongelooflik bevoorreg om my skoonma en my ma te hê wat beurte geneem het om te kom uithelp (met Elodie). My beste vriendin, Bernadene, het ook ’n paar weke kom help.

“David is ’n baie trotse en betrokke pa. Hy versorg Elodie as hy voel ek moet meer rus. Hy het my fisiek, emosioneel en finansieel gedra deur hierdie tyd, al was hy self in skerwe oor my diagnose.”

Dale, wat tuis ook maar net hond wil wees, slurp kos op wat Elodie op die vloer laat val. Sy wil die baba skoon lek wanneer dié morsig geëet het.

Otillia het op 16 April haar laaste chemoterapie ondergaan. Sy is die afgelope week hospitaal toe vir ’n skandering om vas te stel hoe die kanker op die behandeling gereageer het.

Die skandering toon haar longe is kankervry. “Dis ’n wen!”

’n Verdere skandering dié week in Durban sal toon of daar steeds kanker in haar ruggraat is.

“As ’n gestremde word jy elke dag gekonfronteer met buitengewone uitdagings en jy het die keuse om te veg of vlug. Ek het geleer om op die slegte dae diep asem te haal en dit letterlik oomblik vir oomblik te vat.

“Ek het geleer om nooit weer trane terug te hou nie, want dit is deel van die genesingsproses. Ek het geleer om klem te lê op die kleinste vreugdetjies van die alledaagse lewe.”

Sy is oortuig dat God nie vir haar so ’n groot wonderwerk soos Elodie sou gee “net om dit alles weer weg te vat nie”.

En sy behou haar humorsin.

“Elodie het nou amptelik meer hare as haar mamma.”

Meer oor:  Kanker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.