Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Honde se beste vriend

Sy kollegas gehoorsaam elke opdrag van hom. Hulle swaai selfs hul sterte as hy op kantoor kom.

Dis maar net een van die redes hoekom Thomas Moyo (32) viervoetkollegas bo die tweebeensoort verkies.

Thomas Moyo met ’n groep van die honde waarmee hy weekliks in Johannesburg stap. Foto’s: Elizabeth Sejake

Soggens ry hy met ’n taxi van Hillbrow, waar hy woon. In sy netjiese klere lyk hy soos iemand wat in ’n kantoor werk.

“Wanneer ek uit die taxi spring, sien mense ek is mooi aangetrek en hulle neem aan ek gaan kantoor toe – hierdie, die strate ís my kantoor,” beduie hy.

Moyo was ’n tuinier toe hy vyf jaar gelede met sy werkgewer se vier honde begin stap het.

Toe ander honde-eienaars in die omgewing van Parktown-Noord in Johannesburg hom met die honde sien stap, het die versoeke begin instroom. Sy viervoetige, stertswaaiende groep het mettertyd aangegroei tot 48 per week en deesdae is dít Moyo se hoofbron van inkomste.

Sy draagbare radio laat hulle kalmeer.

Lanklaas was “kollegas” so bly om ’n medewerker te sien soos die 12 honde met wie hy die afgelope Donderdagoggend stap toe Rapport hom ontmoet. Hy is op pad om nog twee by hul huis te gaan haal.

Een van hulle is Chester, ’n swart schnauzer. “Chester, sit,” sê Moyo. Chester gaan sit. Moyo hurk en vryf oor sy kop: “Good boy, good boy.”

Dan bondel die honde saam, al stertswaaiend.

“Dié is Rasta,” beduie hy na die ander swart schnauzer. “Hy het hare net soos myne,” sê Moyo met verwysing na sy rastalokke.

Soms trek die honde dwars wanneer hulle ander honde sien. “Dan sê ek ‘nee’. Hulle luister na my.”

Daar is ook Thuli, ’n poedel; Khaya, ’n swart labrador; die drie jack russells Frankie, Impi en Toto; en Peggy, die klein bokser. Die groep, waarvan Queen en Alice ook deel is, is op pad om nóg drie honde by hul huis te gaan haal.

Die honde staan aanvanklik gedwee terwyl Rapport met Moyo gesels. Dan kom ’n drawwer met haar twee honde aan die oorkant van die pad verby en Khaya begin blaf.

Die ander honde volg haar voorbeeld en ’n kakofonie breek uit. In ’n oogwink skakel Moyo sy draagbare radio aan en 94.7 blêr luidkeels bo die blawwers uit. Moyo klap sy vingers op die maat van die musiek en maak ’n paar danspassies.

Die honde bedaar dadelik. Moyo draai die klank sagter.

“Khaya is baie beskermend oor my. Hy blaf as mense te naby aan my kom.”

Mignon Botes, Khaya en Toto se eienaar, vertel later Khaya was maer en verskeur toe sy destyds by haar aangekom het nadat sy uit ’n township by Jeffreysbaai gered is. “Sy was vreesbevange as iemand in my huis instap. Ek het nooit in my lewe gedink sy sal saam met ander honde in ’n groep kan stap nie. Maar Thomas het net ’n manier . . . hy is regtig ’n ongelooflike mens.”

Toe Botes in Desember vyf weke lank weg was, het Moyo, sy vrou en hul vierjarige seuntjie in haar kothuis gebly en na die honde omgesien. Sy vrou en seun woon eintlik in Zimbabwe.

Terwyl hy met die honde stap, gesels hy met hulle.

Sy fooi is R35 per hond per uur. Chester is die enigste een sonder ’n halsband. “Hy loop nog altyd só, al vier en ’n half jaar lank, vandat hy ’n klein hondjie was. Hy is die leier,” sê Moyo.

Soms trek die honde dwars wanneer hulle ander honde sien. “Dan sê ek ‘nee’. Hulle luister na my.”

Hy wil graag met nóg honde stap.

Moyo verkies hondegeselskap bó die van mense. “Mense warra-warra te veel.”

Die lang gestaan begin te veel raak vir die viervoet-stappers en Moyo groet. Hulle stap in Eerstelaan op.

Khaya se waaiende stert is die laaste sien voor die groep om die hoek verdwyn.

Meer oor:  Thomas Moyo  |  Parktown-Noord  |  Honde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.